Tuesday 18 June 2013

HOE VERSLAAN JY DIE REUSE OP JOU PAD?

1 Samuel 17:46  "Vandag sal die Here jou in my mag oorgee sodat ek jou kan verslaan en jou kop van jou lyf afkap."

Ons almal kry te doen met probleme op ons lewenspad, die  "reuse" wat dit vir ons moeilik maak om aan te gaan.  Dawid het ook te doen gekry met so 'n reus naamlik Goliat en Dawid het hom nie gewend na oorlog wapens nie.  Hy het selfs die koning se eie wapenrusting geweier wat hy vir Dawid wou gee.  Al wat Dawid nodig gehad het was sy kettie en vyf gladde klippe.  Watter wapens gebruik jy om jou reuse te verslaan?  Is dit dalk besoeke aan sielkundiges, hande vol depressie, angs en slaap pille of dalk drank?  Dawid se vertroue was nie in homself of sy kettie en vyf klippies nie, nee, sy geloof was in God wat gister, vandag en tot in ewigheid dieselfde is.  As God met Dawid was toe hy Goliat verslaan het sal Hy by jou ook wees as jy jou reuse beveg. Plaas net jou vertroue in Hom en gaan staan voor jou reuse en sê hulle die stryd aan.  Ek verseker jou jy sal met God se hulp as oorwinnaar uit die stryd tree!

Gebed  :  Dankie Abba Vader dat ek nie alleen die reuse in my lewenspad  hoef aan te durf nie maar dat U altyd met my is om my te help om hulle te verslaan.  Amen.


Wednesday 12 June 2013

WAT GAAR JY ALLES OP?


Psalm 118:24  Dit is die dag wat die Here gemaak het;  laat ons daaroor juig en bly wees.

Ek het nou onlangs 'n persoon ontmoet wat 'n ware opgaarder is.  Die engelse woord "hoarder" sê dit vir my so lekker.  Ek het absoluut verstom gestaan.  Sy is 'n vrou van diep in haar sestigs en het nog steeds poppe van haar kinderdae maar dit is nie mooi opgepaste poppe nie, nee dit is lappoppe sonder koppe, en Barbies sonder arms en bene.  Sy het omtrent dertig bokse vol boeke en tydskrifte waarvan die blaaie al geel geword het en wat sy nooit in haar lewe weer sal lees nie.  Genoeg glase, eetgerei en eetservies om 'n paar gesinne 'n leeftyd te hou.  Die twee kamers is van vloer tot dak gepak met hierdie goed uit haar verlede en die kamers is sewe jaar laas skoongemaak.  So kan ek aangaan maar ek glo julle sien die prentjie.  Dit het my laat dink dat baie van ons ook sulke opgaarders is.  Ons gaar al die verdriet, mislukkings, hartseer en griewe van die verlede op en bêre dit in hierdie donker kamer in ons hart.  Party is soos hierdie vrou se poppe, die bene en arms is af en hulle is koploos want ons onthou nie meer so mooi al die besonderhede nie maar ons bly vasklou daaraan en ander is netjies verpak soos die eetservies in sneespapier en ons kan elke gebeure in besonderheid onthou.  Dit is nodig dat ons hierdie opgaar kamer moet skoonmaak en ontslae moet raak van al hierdie negatiewe bagasie.  Dit keer dat God se lig in daardie kamer kan skyn en dit verlig. Kom ons doen wat die Psalmdigter sê en leef vir vandag, dit is die dag wat die Here gemaak het. Vergeet van die dinge van die verlede wat keer dat ons oor vandag kan bly wees en juig.

GEBED  :  Here help asseblief dat ek nie 'n opgaarder word van negatiewe gebeure en gedagtes nie.  Laat U lig elke hoekie van my lewe verlig.  Amen.




WAT MAAK JOU GELUKKIG?

Hebreërs 13:5  Hou julle lewe vry van geldgierigheid; wees tevrede met wat julle het.  God self het gesê: "Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie."

Ons wil almal gelukkig wees.  Maar waarin lê jou geluk? Gaan dit vir jou oor hoe suksesvol jy in jou werk is, hoe groot jou bankbalans is, hoe mooi jou huis is, watter kar jy ry?  Met ander woorde meet jy jou geluk aan jou aardse besittings of word jou geluk gemeet aan jou verhouding met God en die mense om jou?  Ek kan vandag vir jou met sekerheid sê dat as jou geluk gebou is op aardse dinge gaan dit nie lank hou nie want jy sal altyd meer en beter wil  hê.  As jou geluk egter gebou is op jou verhouding met God en die mense om jou kan dit net groter en beter word.  Niemand kan dit van jou af wegvat nie en hoe meer jy daarin belê hoe meer vreugde gaan jy daaruit put.  'n Belegging in liefde en omgee vir ander met die liefde van Jesus in jou hart = GELUK.

GEBED  :  Here U is al wat ek nodig het om gelukkig te wees.  Geen aardse besittings sal ooit vir my die vreugde bring wat ek in U ervaar nie.  Dankie vir U liefde.  Amen. 





Tuesday 11 June 2013

WIL JY OOK AFKLIM?


Matteus 11:28  "Kom na My toe almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee."

"Stop die wêreld ek het seergekry, en alles ja alles draai om my, ek het vêr genoeg saamgery, ek wil afklim en hier by U bly".   


Ek is seker almal het al gevoel soos hierdie woord van Leon Ferreira se liedjie so goed beskryf.  Soms het ons net genoeg gehad van al die swaarkry, hartseer, pyn, eensaamheid, ens wat ons in hierdie wêreld ervaar en wil ons net alles vir 'n ruk ontvlug en by Jesus se voete gaan sit. Die wonderlike nuus is dat ons in Matteus lees dat die Here ons uitnooi om juis dit te doen.  Om na Hom toe te gaan as ons uitgeput en oorlaai is en by Hom sal ons rus vind.  Wat 'n wonderlike versekering dat ons altyd na Hom toe kan gaan en Hy is altyd daar vir ons! 

GEBED  :  Dankie Abba Vader dat ons altyd by U rus kan gaan soek as die wêreld se laste te swaar op ons druk!  



Sunday 9 June 2013

SIEN DIE SILWER RAND

Filippense 4 : 8  Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is - watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees - daarop moet julle julle gedagtes rig.

Ons gedagtes is bepalend van hoe ons leef.  Positiewe denke is 'n baie gewilde onderwerp waaroor motiverings sprekers gereeld praat en ook met goeie rede.  Ongelukkig is die meeste van ons geneig om meestal die negatiewe kant van iets te sien.  In jou gedagtes gaan haal jy 'n probleem nog lank voor dit nodig is.  My ouma het altyd gesê "Jy gaan haal die bobbejaan agter die berg!"  Ek is seker jy het dit jouself ook al beleef.  Jy moet dalk deur 'n sekere situasie gaan maar nog voor dit gebeur dink jy al aan al die negatiewe dinge wat kan gebeur en jy bekommer jou dood daaroor en as jy eers in daardie situasie is sien jy dat al jou bekommernisse en vrese verniet was.  Jy het dus soveel tyd aan onnodige negatiewe gedagtes gewy wat jy eerder kon gebruik het om die positiewe raak te sien.  Jy kan 'n situasie 180°omswaai deur net jou gedagtes daaroor te verander.  In Filippense lees ons waarop ons gedagtes gerig moet wees. Ek kan jou verseker as jy daarvolgens leef sal jy soveel meer vreugde en vrede in jou lewe hê.  Elke donker wolk in jou lewe sal dan 'n breë silwer rand hê!

GEBED  :  Jesus dankie vir die riglyne wat U daar stel van waarop my gedagtes gerig moet wees.  Here, U weet dit gaan party dae maar moeilik en wil ek net daardie bobbejaan gaan haal, maar dankie Vader dat ek kan weet dat U altyd daar is om my te help om die positiewe raak te sien.  Amen.




Friday 7 June 2013

DIE GROOTSTE HIERVAN IS DIE LIEFDE

1 Korintiërs 13 : 13  En nou: geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie.  En die grootste hiervan is die liefde.

Ons het die afgelope paar weke meer lig op die Vrug van die Gees naamlik liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing gewerp.  En soos Paulus in Korintiërs skryf is die grootste hiervan die liefde.  As jy ware Christus liefde in jou lewe het sal al die vrug van die Gees natuurlik uit jou vloei.  Dit gaan party dae maar moeilik om die vrug van die Gees uit te leef maar gelukkig het Jesus die Heilige Gees na ons toe gestuur om ons hiermee te help.  Kom ons probeer om van nou af elke dag hierdie Jesus eienskappe in ons lewe toe te pas en uit te leef en kyk hoe gaan  dit jou verhouding met die mense om jou verander.

Gebed  :  Dankie Here Jesus dat U die Heilige Gees gestuur het sodat Hy ons kan help om liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing in ons lewens te ervaar en uit te leef na ander toe.  Amen. 



Thursday 6 June 2013

VRUG VAN DIE GEES - SELFBEHEERSING

Galasiërs 5:22-23  Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.  Teen sulke dinge het die wet niks nie.

Die laaste vrug van die Gees is selfbeheersing. Selfbeheersing is om volkome beheer oor jou begeertes, aksies en dade uit te oefen.  Net soos 'n atleet met selfbeheersing by sy oefenprogram en dieet moet hou so moet 'n gelowige ook selfbeheersing hê om hom/haar van dinge te weerhou.  Ons almal ken die gesegde "spyt kom te laat".  Dit is daardie kere wat jy voor keuses gestel word en omrede jy nie selfbeheersing het nie, die verkeerde keuse maak en dan met die gevolge sit.  Selfbeheersing is nie maklik nie want die wêreld waarin ons leef is daarop uit om jou te verlei om die verkeerde keuses te maak.  Maar die Heilige Gees gee met die vrug van die Gees vir jou beheer oor jou begeertes, aksies en dade.  Hou jou meer besig met die Here se Woord, bid baie meer, gesels baie meer met God, kom baie meer in kontak met medegelowiges en beleef dan hoe jy al hoe meer selfbeheersing sal kry.

Gebed  :  Dierbare Vader dankie dat U die Heilige Gees na my toe gestuur het om my te help met die moeilike keuses wat ek elke dag moet maak.  Dankie dat ek met U hulp die selfbeheersing het om die regte keuses te maak.  Amen.