Tuesday 18 June 2013

HOE VERSLAAN JY DIE REUSE OP JOU PAD?

1 Samuel 17:46  "Vandag sal die Here jou in my mag oorgee sodat ek jou kan verslaan en jou kop van jou lyf afkap."

Ons almal kry te doen met probleme op ons lewenspad, die  "reuse" wat dit vir ons moeilik maak om aan te gaan.  Dawid het ook te doen gekry met so 'n reus naamlik Goliat en Dawid het hom nie gewend na oorlog wapens nie.  Hy het selfs die koning se eie wapenrusting geweier wat hy vir Dawid wou gee.  Al wat Dawid nodig gehad het was sy kettie en vyf gladde klippe.  Watter wapens gebruik jy om jou reuse te verslaan?  Is dit dalk besoeke aan sielkundiges, hande vol depressie, angs en slaap pille of dalk drank?  Dawid se vertroue was nie in homself of sy kettie en vyf klippies nie, nee, sy geloof was in God wat gister, vandag en tot in ewigheid dieselfde is.  As God met Dawid was toe hy Goliat verslaan het sal Hy by jou ook wees as jy jou reuse beveg. Plaas net jou vertroue in Hom en gaan staan voor jou reuse en sê hulle die stryd aan.  Ek verseker jou jy sal met God se hulp as oorwinnaar uit die stryd tree!

Gebed  :  Dankie Abba Vader dat ek nie alleen die reuse in my lewenspad  hoef aan te durf nie maar dat U altyd met my is om my te help om hulle te verslaan.  Amen.


Wednesday 12 June 2013

WAT GAAR JY ALLES OP?


Psalm 118:24  Dit is die dag wat die Here gemaak het;  laat ons daaroor juig en bly wees.

Ek het nou onlangs 'n persoon ontmoet wat 'n ware opgaarder is.  Die engelse woord "hoarder" sê dit vir my so lekker.  Ek het absoluut verstom gestaan.  Sy is 'n vrou van diep in haar sestigs en het nog steeds poppe van haar kinderdae maar dit is nie mooi opgepaste poppe nie, nee dit is lappoppe sonder koppe, en Barbies sonder arms en bene.  Sy het omtrent dertig bokse vol boeke en tydskrifte waarvan die blaaie al geel geword het en wat sy nooit in haar lewe weer sal lees nie.  Genoeg glase, eetgerei en eetservies om 'n paar gesinne 'n leeftyd te hou.  Die twee kamers is van vloer tot dak gepak met hierdie goed uit haar verlede en die kamers is sewe jaar laas skoongemaak.  So kan ek aangaan maar ek glo julle sien die prentjie.  Dit het my laat dink dat baie van ons ook sulke opgaarders is.  Ons gaar al die verdriet, mislukkings, hartseer en griewe van die verlede op en bêre dit in hierdie donker kamer in ons hart.  Party is soos hierdie vrou se poppe, die bene en arms is af en hulle is koploos want ons onthou nie meer so mooi al die besonderhede nie maar ons bly vasklou daaraan en ander is netjies verpak soos die eetservies in sneespapier en ons kan elke gebeure in besonderheid onthou.  Dit is nodig dat ons hierdie opgaar kamer moet skoonmaak en ontslae moet raak van al hierdie negatiewe bagasie.  Dit keer dat God se lig in daardie kamer kan skyn en dit verlig. Kom ons doen wat die Psalmdigter sê en leef vir vandag, dit is die dag wat die Here gemaak het. Vergeet van die dinge van die verlede wat keer dat ons oor vandag kan bly wees en juig.

GEBED  :  Here help asseblief dat ek nie 'n opgaarder word van negatiewe gebeure en gedagtes nie.  Laat U lig elke hoekie van my lewe verlig.  Amen.




WAT MAAK JOU GELUKKIG?

Hebreërs 13:5  Hou julle lewe vry van geldgierigheid; wees tevrede met wat julle het.  God self het gesê: "Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie."

Ons wil almal gelukkig wees.  Maar waarin lê jou geluk? Gaan dit vir jou oor hoe suksesvol jy in jou werk is, hoe groot jou bankbalans is, hoe mooi jou huis is, watter kar jy ry?  Met ander woorde meet jy jou geluk aan jou aardse besittings of word jou geluk gemeet aan jou verhouding met God en die mense om jou?  Ek kan vandag vir jou met sekerheid sê dat as jou geluk gebou is op aardse dinge gaan dit nie lank hou nie want jy sal altyd meer en beter wil  hê.  As jou geluk egter gebou is op jou verhouding met God en die mense om jou kan dit net groter en beter word.  Niemand kan dit van jou af wegvat nie en hoe meer jy daarin belê hoe meer vreugde gaan jy daaruit put.  'n Belegging in liefde en omgee vir ander met die liefde van Jesus in jou hart = GELUK.

GEBED  :  Here U is al wat ek nodig het om gelukkig te wees.  Geen aardse besittings sal ooit vir my die vreugde bring wat ek in U ervaar nie.  Dankie vir U liefde.  Amen. 





Tuesday 11 June 2013

WIL JY OOK AFKLIM?


Matteus 11:28  "Kom na My toe almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee."

"Stop die wêreld ek het seergekry, en alles ja alles draai om my, ek het vêr genoeg saamgery, ek wil afklim en hier by U bly".   


Ek is seker almal het al gevoel soos hierdie woord van Leon Ferreira se liedjie so goed beskryf.  Soms het ons net genoeg gehad van al die swaarkry, hartseer, pyn, eensaamheid, ens wat ons in hierdie wêreld ervaar en wil ons net alles vir 'n ruk ontvlug en by Jesus se voete gaan sit. Die wonderlike nuus is dat ons in Matteus lees dat die Here ons uitnooi om juis dit te doen.  Om na Hom toe te gaan as ons uitgeput en oorlaai is en by Hom sal ons rus vind.  Wat 'n wonderlike versekering dat ons altyd na Hom toe kan gaan en Hy is altyd daar vir ons! 

GEBED  :  Dankie Abba Vader dat ons altyd by U rus kan gaan soek as die wêreld se laste te swaar op ons druk!  



Sunday 9 June 2013

SIEN DIE SILWER RAND

Filippense 4 : 8  Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is - watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees - daarop moet julle julle gedagtes rig.

Ons gedagtes is bepalend van hoe ons leef.  Positiewe denke is 'n baie gewilde onderwerp waaroor motiverings sprekers gereeld praat en ook met goeie rede.  Ongelukkig is die meeste van ons geneig om meestal die negatiewe kant van iets te sien.  In jou gedagtes gaan haal jy 'n probleem nog lank voor dit nodig is.  My ouma het altyd gesê "Jy gaan haal die bobbejaan agter die berg!"  Ek is seker jy het dit jouself ook al beleef.  Jy moet dalk deur 'n sekere situasie gaan maar nog voor dit gebeur dink jy al aan al die negatiewe dinge wat kan gebeur en jy bekommer jou dood daaroor en as jy eers in daardie situasie is sien jy dat al jou bekommernisse en vrese verniet was.  Jy het dus soveel tyd aan onnodige negatiewe gedagtes gewy wat jy eerder kon gebruik het om die positiewe raak te sien.  Jy kan 'n situasie 180°omswaai deur net jou gedagtes daaroor te verander.  In Filippense lees ons waarop ons gedagtes gerig moet wees. Ek kan jou verseker as jy daarvolgens leef sal jy soveel meer vreugde en vrede in jou lewe hê.  Elke donker wolk in jou lewe sal dan 'n breë silwer rand hê!

GEBED  :  Jesus dankie vir die riglyne wat U daar stel van waarop my gedagtes gerig moet wees.  Here, U weet dit gaan party dae maar moeilik en wil ek net daardie bobbejaan gaan haal, maar dankie Vader dat ek kan weet dat U altyd daar is om my te help om die positiewe raak te sien.  Amen.




Friday 7 June 2013

DIE GROOTSTE HIERVAN IS DIE LIEFDE

1 Korintiërs 13 : 13  En nou: geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie.  En die grootste hiervan is die liefde.

Ons het die afgelope paar weke meer lig op die Vrug van die Gees naamlik liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing gewerp.  En soos Paulus in Korintiërs skryf is die grootste hiervan die liefde.  As jy ware Christus liefde in jou lewe het sal al die vrug van die Gees natuurlik uit jou vloei.  Dit gaan party dae maar moeilik om die vrug van die Gees uit te leef maar gelukkig het Jesus die Heilige Gees na ons toe gestuur om ons hiermee te help.  Kom ons probeer om van nou af elke dag hierdie Jesus eienskappe in ons lewe toe te pas en uit te leef en kyk hoe gaan  dit jou verhouding met die mense om jou verander.

Gebed  :  Dankie Here Jesus dat U die Heilige Gees gestuur het sodat Hy ons kan help om liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing in ons lewens te ervaar en uit te leef na ander toe.  Amen. 



Thursday 6 June 2013

VRUG VAN DIE GEES - SELFBEHEERSING

Galasiërs 5:22-23  Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.  Teen sulke dinge het die wet niks nie.

Die laaste vrug van die Gees is selfbeheersing. Selfbeheersing is om volkome beheer oor jou begeertes, aksies en dade uit te oefen.  Net soos 'n atleet met selfbeheersing by sy oefenprogram en dieet moet hou so moet 'n gelowige ook selfbeheersing hê om hom/haar van dinge te weerhou.  Ons almal ken die gesegde "spyt kom te laat".  Dit is daardie kere wat jy voor keuses gestel word en omrede jy nie selfbeheersing het nie, die verkeerde keuse maak en dan met die gevolge sit.  Selfbeheersing is nie maklik nie want die wêreld waarin ons leef is daarop uit om jou te verlei om die verkeerde keuses te maak.  Maar die Heilige Gees gee met die vrug van die Gees vir jou beheer oor jou begeertes, aksies en dade.  Hou jou meer besig met die Here se Woord, bid baie meer, gesels baie meer met God, kom baie meer in kontak met medegelowiges en beleef dan hoe jy al hoe meer selfbeheersing sal kry.

Gebed  :  Dierbare Vader dankie dat U die Heilige Gees na my toe gestuur het om my te help met die moeilike keuses wat ek elke dag moet maak.  Dankie dat ek met U hulp die selfbeheersing het om die regte keuses te maak.  Amen. 












Wednesday 5 June 2013

VRUG VAN DIE GEES - NEDERIGHEID

Galasiërs 5:22-23  Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.  Teen sulke dinge het die wet niks nie.

Die agste vrug van die Gees is nederigheid.   Nederigheid is om jou nie bo ander te stel nie.  Dit is om minder as ander te wees.  Ons almal ken 'n Mev Dokter So-en-So en met daardie titel probeer sy haarself bo ander stel.  Sy wil daarmee sê "My man is 'n dokter so ek is eintlik beter as ander."  'n Vinnige toets vir hoogmoed is as jy die woord "ek" baie by iemand hoor.  Ek dit, ek dat!  As mens aan 'n nederige persoon dink kom die woorde, toegeeflikheid, bedaardheid en kalmte by jou op.  Dit is iemand wat die gawes wat God vir hom/haar gegee het uitleef en gebruik maar die linkerhand weet nie wat die regterhand doen nie.  Dit is iemand wat met vreugde toekyk hoe iemand anders sy gawes van God uitleef en gebruik en nie jaloers daarop is nie.  Nederigheid was een van die grootste karakter eienskappe van Jesus.  Hy het met die melaatses, prostitute en sondaars gemeng.  Hy het sy dissipels se voete gewas. Maar onthou nederigheid is nie papbroekigheid nie. Alhoewel Jesus nederig was het Hy gestaan vir wat reg was. So moet ons ook wees, sonder om mense te vertrap.

Gebed  :  Here Jesus neem asseblief alle hoogmoed van my weg sodat dit nie U liefde van my wegkeer nie.  Laat nederigheid soos 'n glasdeur in my lewe wees wat oopstaan sodat ek 'n verlengstuk van U hande kan wees.









Monday 3 June 2013

VRUG VAN DIE GEES - GETROUHEID

Galasiërs 5:22-23  Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.  Teen sulke dinge het die wet niks nie.

Die sewende vrug van die Gees is getrouheid.  Hierdie vrug van die Gees beteken jy is betroubaar, lojaal, mense kan op jou staat maak en dat jy jou woord hou.  Getrouheid het skaars geraak in ons samelewing. Ons kry daagliks te doen met mense wat nie betroubaar is nie.  Beloftes word gemaak en nie nagekom nie.  Afsprake wat gemaak word en nie nagekom word nie.  Getrouheid beteken dat jy doen wat jy onderneem het, selfs al het die glans verdof.  Dat jy jou woord hou selfs al het iets gebeur wat dit vir jou baie moeiliker maak as wat jy beplan het.  Dat jy sal aanhou werk aan 'n verhouding lank nadat ander al tou sou opgegooi het. Dat jy die wet onderhou, selfs al sien niemand jou nie.  En belangrikste van alles dat jy getrou sal bly aan jou verbintenis met Jesus al kos dit wat.

Gebed  :  Abba Vader help my asseblief om te besef hoe belangrik getrouheid as vrug van die Gees in my lewe is en Here help my om getrou te bly aan my verbintenis met U al kos dit wat.  Amen.











Monday 27 May 2013

VRUG VAN DIE GEES : GOEDHARTIGHEID

Galasiërs 5:22-23 Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.  Teen sulke dinge het die wet niks nie.

Die sesde vrug van die Gees is goedhartigheid.  Hoe word jy 'n mens met 'n goeie hart?  Net op een manier - in ons verhouding met God.  Jy kan nie vir God lieg as jy met onverwerkte emosies soos haat, ontevredenheid, onvergewensgesindheid of selfsug rondloop nie.  Jy moet hierdie emosies van die hart binne jouself raaksien en dit dan in gebed voor God aflê.  God gee jou die krag om dit te oorwin en jou hart met nuwe goeie emosies te vul - goedhartigheid.  Vir 'n gesonde hart eet jy reg en oefen gereeld.  Vir 'n goeie hart eet jy uit God se Woord en oefen elke dag om fikser te word - en te leef soos God  van jou vra. 

Goedhartigheid beteken ook dat mens bereid is om te gee, of selfs net bereid is om vriendelik te deel.  Maar dit gaan ook om van jouself te gee, of dit nou jou tyd is wat jy gee of van jou persoonlike besittings is wat jy afstaan, maar 'n goedhartige is bereid om van wat hy het met ander te deel. Ons as kinders van God moet harder werk aan ons gawe van goedhartigheid as enige ander saak - want dit bepaal ons ware karakter as christen.  Dit is die eerste ding wat ander in jou sal raaksien - of jy 'n goeie hart het of nie. 

Gebed  :  Dierbare Vader ek lê vandag al die onverwerkte negatiewe emosies wat in my hart is voor U neer.  Help my om dit te oorwin, Here en gee asseblief vir my 'n goeie hart.  Amen.









VRUG VAN DIE GEES : VRIENDELIKHEID

Galasiërs 5:22-23  Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.  Teen sulke dinge het die wet niks nie.

Die vyfde vrug van die Gees is vriendelikheid.  Ons beoordeel iemand baie gou of hulle vriendelik is of nie.  Maar vriendelikheid is nie net beperk tot gelowiges nie.  Ons almal ken mense wat nie in God glo nie maar tog vriendelik is.  Hoe kan die Bybel dan sê vriendelikheid is 'n vrug van die Gees. Miskien moet ons tussen verskillende soorte vriendelikheid onderskei.  Die ongelowige se vriendelikheid is 'n selfgesentreerde vriendelikheid.  Dit gaan om wat hy/sy daaruit kan kry.  Die ongelowige handelaar of sakeman is vriendelik met hulle kliënte want hulle wil geld maak.  Die ongelowige kollega is vriendelik want hy/sy wil iets van jou hê.  Die ongelowige buurman is vriendelik want hy wil in 'n aangename atmosfeer leef.   Maar hierdie vriendelikheid is nie blywend nie, dit is 'n middel tot 'n doel.  Daarteenoor is vriendelikheid as vrug van die Gees baie dieper.  Dit is nie 'n middel tot 'n doel nie.  Dit is 'n uitvloeisel van die gesindheid van die hart. 'n Kind van God kan nie anders as om vriendelik te wees nie!  'n Onvriendelike Christen is dus nie moontlik nie.  Want vriendelikheid is 'n vrug van die Gees as die mens sy lewe aan die Here oorgegee het en die Heilige Gees ons lewens betree en bewoon - dan en dan alleen vloei die vrugte van die Heilige Gees en ook vriendelikheid uit ons lewens uit.

Gebed  :  Abba Vader dankie dat die Heilige Gees my lewe vul en dit die moeite werd maak.  Dankie dat dit 'n vreugde is om te leef!  Gee dat vriendelikheid uit my hele lewe sal straal.  Amen.





Friday 24 May 2013

VRUG VAN DIE GEES : GEDULD

Galasiërs 5:22-23  Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.  Teen sulke dinge het die wet niks nie.

Die vierde vrug van die gees is geduld.  Die natuur van die mens is ongeduld, want ons wil nie wag nie.  Ons soek oombliklike oplossings.  Ons is die "nou" geslag.  Alles is kits, kits kos, kits pap, kits koffie, kits verligting van hoofpyne en verkoues.  Alles met die doel om tyd te spaar.  Die "kits" lewe veroorsaak dat ons meer gespanne is as wat die mens bedoel was om te leef.  Ongeduld gee ook maklik aanleiding tot ander negatiewe emosies soos woede en uitbarstings.

Ons word nie met geduld gebore nie.  Ons sien hoe babas van geboorte af huil of hoe rusteloos 'n kind kan wees. Volgens Galasiërs 5 is geduld iets wat die Heilige Gees binne 'n gelowige bewerk - dit is deel van die vrug van die Gees.  Bid tot God en span jou dan in om geduldig te wees. So wek die Gees geduld in jou lewe. Geduld is kragtig. Geduld is die vermoë om dinge deur te sien.  Geduld beteken dat ek nie hoop verloor nie.  Geduld hou aan om die wil van die Here te doen ongeag omstandighede.  Dit ag die Here bo alles.

Kom ons streef na geduld in ons lewe.  Bid dat die Heilige Gees geduld in jou sal wek en werk saam met die Heilige Gees om geduld in jou te ontwikkel.  Deur geduldig te wees sal ons sien hoe die Here besig is om ons te seën.

Gebed  :  Dierbare Vader help my om geduldig te wees in alle opsigte van my lewe.  Amen.


Thursday 23 May 2013

VRUG VAN DIE GEES : VREDE

Galasiërs 5:22-23  Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.  Teen sulke ding het die wet niks nie.

Die derde vrug van die Gees is vrede.  Daar was nog nooit soveel onrus in die wêreld soos vandag nie.  Die gevoel van verwarring, ontsteltenis en angs word elke dag erger.  Die behoefte aan vrede is sterk teenwoordig in baie harte.  Deel van die erfporsie van God aan sy kinders is juis dit : Vrede. Johannes 14:27  "Vrede laat Ek vir julle na;  my vrede gee Ek vir julle.  Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie.  Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie."

Wat in jou hart leef, word uiteindelik dade.  Die Here wil hê dat vrede jou hart moet vul want dan sal jy ook vrede na buite toe uitleef.  Wanneer daar allerhande onaangename dinge op jou pad kom - soos rusies en harde woorde - moet vrede die laaste sê daaroor hê.  Dit het van Jesus die grootste offer nog gekos om vrede tussen ons en God tot stand te bring.  Vrede is Christus.  Om vrede te ken moet jy Christus ken.  Vrede is nie 'n gevoel of omstandighede nie, Vrede is 'n mens en Sy naam is Jesus Christus.  Vrede is nie iets wat Christus vir jou wil "gee" nie maar iets wat Hy vir jou wil WEES.  "Hy is die Vredevors". (Jesaja 9:5)

Hoe is ek so seker daarvan dat Christus vrede is?  Ek ervaar dit in my binnekamer, alleen saam met Jesus, en dit vat ek saam met my die wêreld in.  "En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus." (Filippense 4:7)

Gebed  :  Dankie Abba Vader dat ek U vrede in my kan ervaar en dit saam met my kan neem as ek gekonfronteer word met die verwarring, ontsteltenis en angs van die wêreld.  Amen.




Wednesday 22 May 2013

VRUG VAN DIE GEES : VREUGDE

Galasiërs 5:22-23  Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.  Teen sulke dinge het die wet niks nie.

VREUGDE  :  Die tweede vrug van die Gees volgens Paulus is vreugde.  Vreugde beteken om 'n diepe en innige blydskap te hê.

- Vreudge is om te besef : Dankie Here, ek leef nie meer vir myself nie.

- Vreugde is dus om te besef : as mense na my kyk, sien hulle iets van God raak.
               
- Vreugde kom eers as 'n mens sonder verdienste begin uitdeel.  Dis om jouself en van jou besittings te deel sonder om iets in ruil te verwag.

Die vreugde van God is onvernietigbaar;  dis iets wat nie deur hartseer, verlies of teleurstellings uitgewis kan word nie. Dit is God se geskenk aan sy kinders, en ons kry dit deur die werk van die Heilige Gees in ons lewe.

GEBED  :  Abba Vader vul asseblief my hart vol blydskap en vreugde sodat as mense na my kyk hulle iets van U in my sal sien.  Amen.




Tuesday 21 May 2013

VRUG VAN DIE GEES : LIEFDE

Galasiërs 5:22-23  Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.  Teen sulke dinge het die wet niks nie.

LIEFDE  :  Paulus se lys van Geesvrug begin nie verniet met die liefde nie.  God se Woord is vol van hoe belangrik liefde is.  Ons grootste voorbeeld van onbaatsugtige liefde is God wat Sy enigste seun opgeoffer het om vir ons sonde te sterf! Daar is nie 'n groter liefde nie.   In sy brief aan Korintiërs oor die liefde skryf Paulus in 1 Kor 13:11  "En nou:  geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie.  En die grootste hiervan is die liefde!"  Dit is maklik om die mense naby aan ons lief te hê, ons gesin, ons familie, ons vriende ens.  Maar waar die Geesvrug liefde getoets word is as dit kom by mense wat dit vir ons moeilik maak om vir hulle lief te wees.  Nie een van ons is in staat om hoegenaamd uit ons eie krag Geesvervulde kinders te wees nie.  Ons kan slegs die vrug van die Gees leef as ons onsself volkome aan God se werking oorgegee het. En wanneer God so deel van ons lewe is, dan dink, praat en doen ons soos Christus-kinders.

Gebed  :  Dierbare Vader vul my met U liefde sodat ek in staat sal wees om my naaste lief te hê soos U dit van my verwag.  Amen.



Monday 20 May 2013

IS JY BY 'N KRUISPAD?

Jeremia 29:11  Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here:  voorspoed en nie teenspoed nie;  Ek wil vir julle 'n toekoms gee, 'n verwagting!

Ons almal neem elke dag besluite soos wat trek ek vandag aan en wat eek ek vir ontbyt.  Maar dan is daar ook daardie groot besluite wat ons soms moet neem. Besluite wat jou lewe sal verander.  Dit is met hierdie besluite dat ons na die Here toe moet gaan vir hulp en leiding.  As jy 'n besluit neem sonder dat jy dit voor Jesus se voete gelê het, en dit is die verkeerde besluit, sal jy hierdie gedurige onrustigheid in jou hê.  Ek moet tans 'n baie groot besluit neem wat my hele lewe gaan raak en ek het dit voor Jesus se voete gelê, maar tipies mens eintlik vir Hom gesê wat die uitkoms moet wees.  Ek het weke hieroor gewroeg en kon net nie rustigheid kry nie.  Tot ek vir die Here gesê het dit maak nie meer saak wat die uitkoms is nie, ek weet wat Hy vir my beplan en dit is voorspoed en nie teenspoed nie.  Die Here sal nie iets in my lewe laat gebeur wat nie Sy wil is nie.  En onmiddellik het ek hierdie oorweldige rustigheid in my gees ervaar.  Ek weet nog nie wat gaan gebeur nie maar ek is eintlik opgewonde om te sien watter pad die Here vir my beplan!

Gebed  :  Here dankie dat ons met al ons besluite na U toe kan kom en dat ons kan weet U wil net die beste vir ons hê. U beplan vir ons voorspoed en nie teenspoed nie.  Amen.



Friday 17 May 2013

HET JY 'N GIDS OM VIR JOU DIE PAD AAN TE WYS?

Johannes 8:12  ..."Ek is die lig vir die wêreld.  Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie maar sal die lig hê wat lewe gee."

As jy 'n vreemde plek besoek is dit goed om 'n gids te hê om jou rond te wys.  As jy gaan probeer om op jou eie reg te kom gaan dit 'n groot gesukkel en gesoek afgee en heel moontlik gaan jy 'n paar maal verdwaal.  Net so het ons ook op ons lewenspad iemand nodig om vir ons die weg aan te dui en in Johannes sê die Here dat Hy die lig vir die wêreld is.  Wie Hom volg sal nooit verlore gaan nie.  Wat 'n wonderlike gedagte dat ons nooit op ons eie hoef aan te sukkel nie. Ons Abba Vader is altyd daar om vir ons die pad te wys.

GEBED  :  Dankie Here dat U die lig vir my pad is en dat ek nooit hoef te verdwaal op die paaie van die lewe nie.  Amen. 


Thursday 16 May 2013

MOET DIT NIE ONDER DIE MAT PROBEER WEGSTEEK NIE

1 Johannes 1:9  Maar as ons ons sondes bely - Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.

Nie een van ons is sonder sonde nie maar wat ons daaromtrent doen is wat saak maak.  As jy iets gedoen het wat jy weet buite die wil van God is gaan bely dit voor Hom. Moet dit nie onder die mat invee en daarvan probeer vergeet nie. Onthou God weet alles van ons en daarom kan ons niks van Hom wegsteek nie.  Maar die goeie nuus is dat NIKS wat ons voor God bely Hom minder lief vir ons sal maak nie.  Die enigste vereiste is dat jy sal bely en sal wegdraai van die sonde.  Hebreërs 10:26 sê "Wanneer ons opsetlik bly sondig nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, is daar geen offer meer wat ons sondes kan wegneem nie."   As daar enige sonde in jou lewe is wat jy nog nie voor God bely het nie doen dit nou.  Hy is getrou en regverdig en sal jou vergewe en reinig van alle ongeregtigheid.

GEBED  :  Vader, ek kom na U toe in die Naam van ons Here Jesus Christus.  Here, ek weet my lewe is nie in orde voor U nie.  Daarom kom bely ek vandag al my sondes en ongeregtighede voor U.  Al my verkeerde woorde, verkeerde gedagtes en verkeerde dade.  Here, U ken dit tog alles.  Ek bely alles wat ek kan onthou, en selfs dit wat ek nie kan onthou nie, maar wat U kennis van dra, as sonde.  Dankie dat U ook vir my aan die kruis gesterf het.  Ek vra dat U asseblief in my hart kom en vir altyd in my hart sal bly.  Ek vertrou U dat U nou my hart skoonmaak.  Ek aanvaar U as my REDDER, Here.  Ek bely hiermee dat ek met my  hele hart glo dat Jesus Christus vlees geword het, aan die kruis gesterf het, en deur U uit die dood gewek is op die derde dag om te sit aan U regterhand.  Here ek aanvaar nou met dankbaarheid U vergifnis vir al my sonde.  Daarom bely ek ook nou aan die wêreld en satan en sy magte van duisternis dat Jesus Christus van hierdie oomblik af my Koning, my Here, my Redder, my Saligmaker, my Verlosser en my vriend is.  Dankie Here Jesus vir U verlossing en genade, ek maak dit nou my eie.  In Jesus Christus se magtige Naam, Amen. 




Wednesday 15 May 2013

LOOP DIE PAD SÁÁM MET HOM

Job 23:14  Wat Hy oor my besluit het, sal Hy doen, wat sy planne met my ook al is.

Wanneer ons deur 'n moeilike tyd in ons lewe gaan is dit alles-oorheersend.  Ons eie seer, probleme en bekommernisse is al waaroor ons dink en praat.  Dit beïnvloed ons emosies, ons uitkyk op die lewe en dalk ook ons siening oor God.

Dalk wonder jy hoe God dit wat nou in jou lewe gebeur kan toelaat.  Waarom jy? Toe God toegelaat het dat alles van Job af weggevat word het hy en sy vriende ook daaroor gewonder. Hulle het allerhande verklarings daarvoor probeer kry todat Job uiteindelik besef het : Dit gaan nie oor my nie! Alles wat met my gebeur, gaan oor God!  As jy dus baie waarom-ék?-vrae in jou gemoed het moet jy dalk ook dié vrae vra:

* Waarom nié ek nie?  Wat maak my anders as die persoon langs my?
* Wat wil God hê moet ek hieruit leer?
* Hoe kan Hy deur my swaarkry verheerlik word?

Aanvaar ook in jou swaakry God se wil met jou lewe.  Loop eerder die pad vol klippe gehoorsaam sáám met Hom - dit maak dit soveel makliker.  

Gebed  :  Here help my om te aanvaar dat wat ookal in my lewe gebeur, dit U plan vir my lewe is, en dat U altyd saam met my is. Amen.



Tuesday 14 May 2013

VOLKOME BLYDSKAP

Johannes 15:11 "Dit sê Ek vir julle sodat my blydskap in julle kan wees en julle blydskap volkome kan wees."

Ek wil vandag begin met 'n storie wat Joyce Meyer vertel het: A little girl had a very stern religious grandfather that never laughed or even smiled and everything was sin. He lived on a farm and one day she came to visit him and he watched her as she walked around on the farm visiting all the animals. When she came to the horses and see them frolicking around she said "No, they don't have it".  Then she came to the pigs and saw them rolling around in the mud and enjoying themselves and she said "No, they don't have it" and again when she saw the cows running around looking happy she said "No, they don't have it! But when she got to the donkeys and saw their hanging ears, hanging heads and droopy eyes she said : Yes, they have it!!!" When her grandfather asked her what it is they have which the others don't she said: "They have religion like you, grandfather!"    

As ons Jesus se volkome blydskap in ons het is daar geen manier dat mense na ons kan kyk en nie ook begeer wat ons het nie. Kom ons nooi mense met ons houding uit om Jesus as hulle ewige Verlosser en Redder te aanvaar.  Laat ons nie wees soos die oupa nie!

Gebed  :  Dankie Dierbare Vader dat ons U volkome blydskap in ons lewens kan ervaar!







Sunday 12 May 2013

BREEK DIE MURE AF

Psalm 34:16  Die Here sorg vir die regverdiges en luister na hulle hulpgeroep.

Ons word dikwels seergemaak en teleurgestel deur mense wat veronderstel is om ons lief te hê en onvoorwaardelik te aanvaar.  Hierdie seekry gaan sit baie diep en as dit herhaaldelik gebeur bou mens later 'n muur om jou om jou te beskerm teen verdere seerkry.  So stel ons ook vir God teleur en maak Hom hartseer met die dinge wat ons sê en doen.  Maar gelukkig bou Hy nie 'n muur om Hom nie maar nooi ons eerder uit om na Hom toe te kom en om by Hom van ons seer en teleurstellings te genees.  God het ons so lief dat Hy ons enige iets sal vergewe as ons Hom vra om dit te doen.  Kom ons gaan vandag na Hom toe en vra dat Hy die mure wat ons om ons gebou het sal afbreek en ons verharde harte weer sal sagmaak.

Gebed  :  Abba Vader help my asseblief om vandag die mure wat ek om my gebou het af te breek en my harde hart sag te maak. Sonder U, Here, sal ek dit nie kan doen nie. Amen.



Friday 10 May 2013

VOETSPORE

Lukas 6:31  Behandel ander mense soos julle self behandel wil word.


So baie mense kruis ons lewens gedurende ons lewenspad en laat voetspore na. Sommige mense storm jou lewe binne, vertrap alles en laat voetspore van hartseer en ongeluk agter.  Ander mense loop saggies deur jou lewe en laat voetspore wat amper nie gesien kan word nie.  En dan is daar die mense wat met ferm tred deur jou lewe stap en voetspore van liefde, geluk en vreugde agterlaat.  Dit is die mense wat jy wil terugroep as hulle voetspore eindig want jy mis hulle en sou graag 'n langer pad met hulle wou stap. Hoe lyk die voetspore wat jy in ander mense se lewens agterlaat?

Gebed  :  Here help my om voetspore van liefde en vreugde te laat in die lewens van mense wat my lewenspad kruis.



Thursday 9 May 2013

HOE HARDLOOP JY DIE WEDLOOP


Hebreërs 12:1-2  Terwyl ons dan so 'n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof.

Ons lewe hier op aarde is 'n wedloop na die eindstreep.  Ons gaan almal by die eindstreep kom maar hoe hardloop jy hierdie wedloop?  Hardloop jy dit met volharding en vol geloof met die groot beloning wat vir jou wag by die eindstreep, naamlik die ewige lewe (Openbaring 2:7  Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê.  Aan elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek te ete gee van die boom van die lewe, wat in die paradys van God is.)  Of hardloop jy dit met groot moeite en gesukkel en met die wêreld se verleidings wat jou kort kort jou einddoel laat vergeet.  Kom ons besluit om van vandag af hierdie wedloop met volharding en geloof aan te pak en met die riglyne van God se Woord is die moontlik.

Gebed :  Abba Vader help ons asseblief om van vandag af ons lewens wedloop met volharding en geloof aan te pak en met groot vreugde en verwagting uit te sien na die beloning by die eindstreep.  Amen.





Wednesday 8 May 2013

KOM UIT DIE DONKER GAT

Psalm 37:23-24  Die Here bepaal die koers van die mens met wie se pad Hy tevrede is, en Hy ondersteun hom.  As so iemand val, bly hy nie lê nie, want die Here help hom op.

As omstandighede onmoontlik lyk vir ons as mens is dit so maklik om in daardie donker gat van depressie te val. Sodra satan 'n effens teken by jou sien van moed opgee maak hy die bek van daardie gat ekstra wyd oop.  Hy vertel vir jou leuens van dinge wat nog erger gaan raak of nie gaan regkom nie.  En ons luister daarna en sodra ons in daardie donker depressie gat is maak hy die deksel toe en is dit so moeilik om weer daar uit te kom.  MAAR as kind van God is daar 'n uitweg.  Die Psalmdigter sê dat iemand wat God se pad loop deur God ondersteun word.  En as so persoon sou val sal hy nie bly lê nie want die Here help hom op.  Maak nie saak hoe diep of donker daardie gat is nie of hoe styf die deksel op is nie God help ons daaruit!  Wat 'n wonderlik gedagte dat ons nooit weer daardie depressie gat hoef te vrees nie.  Sodra jy daardie donker wolk oor jou voel saamtrek roep al God se beloftes in Sy woord oor jou lewe op.  Gryp dit aan en beveg die vyand daarmee.  Hy sal nie 'n kans hê nie!

Gebed  :  Here dankie dat U altyd daar is om ons op te tel as ons val en dankie vir die wapens wat U vir ons in U woord gee om die vyand meer te beveg. Amen.





Tuesday 7 May 2013

MOENIE BANG WEES NIE

Josua 1:9  Wees sterk, wees vasberade.  Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan.

Ons almal kom in situasies waar vrees wil oorneem.  Jy is dalk bang vir 'n nuwe werk waar jy moet begin, bang om 'n nuwe verhouding te begin, bang vir 'n operasie wat voorlê of net bang vir wat die toekoms inhou.  Daar is so baie gebiede in ons lewe waar die vyand ons aanval deur ons te verlam van vrees.  Dit is sy manier om ons oë weg te haal van Jesus en in sy leuens te glo.  Maar in Josua verseker die Here ons weereens dat Hy altyd by ons is en dat ons nie bang moet wees nie.  Sy opdrag aan ons is om sterk en vasberade te wees. En ons kan sterk en vasberade wees met Sy hulp.  As jy vandag in so 'n situasie is wat jy bang voel gryp hierdie woorde van die Here aan en jy sal daar deurkom!

Gebed  :  Dankie Here vir die versekering dat as ek bang is U by my is.  Maak my asseblief sterk en vasberade in U krag.  Amen.


Monday 6 May 2013

WORD STIL VOOR HOM

Johannes 10:27-28  My skape luister na my stem;  Ek ken hulle en hulle volg My.


Maak ons regtig tyd om te luister wat die Here vir ons wil sê? Ons is gou om te vra vir wat ons nodig het maar soms is dit nodig vir Hom om met ons te praat.  Ons is egter so besig dat ons nie Sy stem hoor nie.  Maak tyd in jou dag om net stil te word en by Jesus se voete te gaan sit en net te luister.  Maak jou gedagtes leeg van alle wêreldse dinge wat jou aandag kan aflei en die  Heilige Gees sal met jou praat.  In Johannes lees ons dat die Here sê Sy skape luister na Sy stem.  Hulle ken Hom en hulle volg Hom.  Kom ons luister na Sy stem sodat ons Hom behoorlik kan leer ken en Hom volg met elke tree wat ons gee.

GEBED  :  Here help my om stil te word voor U en te hoor wat U vir my wil sê.  Amen.



Friday 3 May 2013

TREK JOU ELKE DAG REG AAN

Efesiërs 6:10  Trek die volle wapenrusting aan wat God julle gee, sodat julle op julle pos kan bly ondanks die listige aanslae van die duiwel.

God het aan ons almal 'n taak gegee hier op aarde en satan sal alles in sy vermoë doen om te keer dat ons daardie taak verrig en volbring.  Sy hele doel is om ons bestaan hier op aarde nutteloos te maak en om die kinders van God te verlei om die verkeerde pad te vat.  Die pad wat ons sal weglei van die Poorte van die Hemel.  Daarom moet ons onsself  elke dag toerus met God se wapenrusting om ons te beskerm teen hierdie aanslae.

Elke dag, voor jy jou dag begin trek hierdie wapenrusting aan en jy sal op jou pos kan bly om jou taak hier op aarde te verrig:
Efesiërs 6:14-17 Die waarheid as gordel om julle heupe, die vryspraak deur God as borsharnas, en die bereidheid om die evangelie van vrede te verkondig as skoene aan die voete.  Daarby moet julle altyd geloof as die skild in die hand hê, want daarmee sal julle al die brandpyle van die Bose kan afweer.  Sit verlossing as helm op en vat die swaard van die Gees, dit is die woord van God.  

Gebed :  Dierbare Vader dankie dat U vir ons die nodige wapenrusting gegee het om ons te beskerm teen die aanslae van die duiwel.  Amen.



Thursday 2 May 2013

DIE PREMIE VIR GOD SE LIEFDE

Johannes 15:7  As julle in My bly en my woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry. 


God is altyd by ons en wil ons beskerm en seën maar soms ken ons God net as ons Hom nodig het.  Ons bid Psalm 91 oor ons gesin en huis as ons benoud is skuif God dan weer bietjie op die agtergrond.  Kan ons dan op God se beskerming staat maak?  Die antwoord is nee.  God is nie goedkoop versekering nie maar die premie vir God se liefde en seën is baie bekostigbaar.  Die premie is LIEFDE.  Ons moet God lief hê met ons hele hart, met ons hele siel en met al ons krag en met ons hele verstand (Lukas 10:27) en Hom altyd eerste stel in ons lewens.  Dan kan jy verseker weet dat God jou sal beskerm en seën as jy Hom vra.  As jy 'n kind van God is moet jy egter nie dink jy is gevrywaar van enige negatiewe gebeurtenisse in jou lewe nie.  Nee, wat dit beteken is dat God altyd daar is vir jou en jou sal dra deur enige swaarkry in jou lewe.  Jy sal nooit alleen wees nie.

GEBED  :  Abba Vader U is my Alpha en Omega, my begin en my einde en ek het U lief met my hele hart, siel en verstand.  Amen.



Tuesday 30 April 2013

VOLG SY VOORBEELD

Efesiërs 5:1  Omdat julle kinders van God is en Hy julle liefhet, moet julle sy voorbeeld volg.


As jy waarlik in Christus glo moet jy die voorbeeld wat Hy vir jou stel uitleef.  Dit beteken nie net dat jy elke Sondag kerk toe moet gaan nie, nee dit beteken dat ons elke dag so moet leef dat ander mense Jesus in ons sal sien. Soms is dit baie moeilik want ons is net menslik. As jy dus voor die versoeking swig om nie volgens God se woord te handel nie moet nie jouself veroordeel nie.  Omdat God weet dat ons net mens is verwag Hy nie dat ons oornag 'n spieëlbeeld van Hom moet word nie.  As jy jouself 'n Christen noem is die wêreld se oë ongelukkig heeltyd op jou om te sien waar jy struikel en val.  Moet jou egter nie aan hulle steur nie, wat belangrik is, is dat jy sal opstaan en elke dag tree vir tree nader beweeg aan dit wat God van jou verwag om te wees. 


GEBED  :  Abba Vader U sien al my foute en tog is U nog steeds lief vir my.  Help my asseblief om elke keer as ek struikel weer op te staan en nader aan U te beweeg.  Amen.





HOE BEGIN JY JOU DAG?

Matteus 6 : 33  ...beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.

Spandeer jy genoeg tyd saam met God?  Ek weet tyd is vir almal 'n faktor maar ek verseker jou hoe meer tyd jy saam met God deurbring hoe meer tyd gaan jy hê.  Ek vind dat wanneer ek tyd saam met my Abba Vader in die oggend deurbring is ek so gefokus op die dag wat voorlê dat ek beter kan beplan en alles kan inpas wat gedoen moet word.  Die dag wat ek oorslaan en my dinge eerste stel kan ek maar verseker wees van 'n chaotiese dag.  Begin jou dag reg, stel God eerste en wees verseker van 'n geseënde dag.

Gebed  :  Dankie Jesus dat U altyd daar is vir my.  Ek begeer om meer tyd in U teenwoordigheid deur te bring. Help my asseblief.  Amen.



Monday 29 April 2013

GEE JOU BEKOMMERNISSE OOR AAN HOM

Matteus 6 : 26  Kyk na die wilde voëls:  hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie;  julle hemelse Vader sorg vir hulle.  Is julle nie baie meer werd as hulle nie?

Hoeveel van ons verkwis tyd deur ons te bekommer oor die toekoms?  Ons is onseker oor ons werk, ons kinders se toekoms, of ons finansieel al ons verpligtinge sal kan nakom ens.  My broer het 'n wonderlike 10 minuut filosofie.  As mens 10 minute sonder suurstof is, is jy dood.  So volgens hom moet hy net die volgende 10 minute oorleef as dit verby is vat hy die volgende 10 minute want nie een van ons is seker of ons oor 10 minute nog hier gaan wees nie!  Voor ek gaan slaap in die aand sê ek vir Abba Vader dankie vir vandag se samesyn met my geliefdes, vandag se dak oor my kop, vandag se gesondheid, vandag se brood, dat ek klere gehad het om vandag te dra.  En dan vra ek Hom om asseblief vir more te voorsien en dit is asof 'n berg van my skouers lig as ek besef ek hoef nie meer daaroor te bekommer nie.   Soos  geskryf in Matteus 6 : 26  as my Abba Vader vir die voëls van die hemel sorg hoeveel te meer sal Hy nie vir my, Sy kind, sorg nie.  Gee jou bekommernisse oor aan Hom en geniet Sy liefde en genade elke dag.



GEBED  :  Dankie Abba Vader dat U in al my behoeftes voorsien.  Amen.   

Thursday 25 April 2013

DIE VOLMAAKTE SKEPPING

Genesis 1 : 31 Toe het God gekyk na alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed.  Dit het aand geword en dit het môre geword.  Dit was die sesde dag.

Ek word vanoggend wakker met die geluid van die see wat daar vêr sy branders uitstoot en terugtrek en die voëltjies wat vrolik kwetter in hulle nessie by my kamer venster en ek kom weereens onder die besef hoe groot en wonderlik God se skepping is.  Gaan loop bietjie in die natuur en kyk om jou rond, alles van die hoogste berg tot die kleinste blommetjie en insek is volmaak geskep.  Ons lewenswyse kan ons so maklik blind, doof en gevoelloos maak.  Daarom is dit so belangrik dat ons, ten spyte van die gewoel van 'n kunsmatige wêreld, tyd sal maak om stil te word en God se skepping weer opnuut te ervaar.  En ook weer opnuut sal besef dat ek en jy deel is van hierdie volmaakte skepping!  Ons is waarlik geseënd.

Gebed  :  Dankie Abba Vader dat U ons so lief het dat U ons deel gemaak het van hierdie volmaakte skepping.  Amen. 


ONVOORWAARDELIKE LIEFDE

Romeine 8 : 38-39 Hiervan is ek oortuig:  geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.


Ek het gister die voorreg gehad om die dag saam met my kinders en kleinkinders deur te bring!  Ek het net weereens besef dat daar min dinge is wat naby die liefde wat 'n ma vir haar kinders het, kom.  My hart het eintlik gepyn van trots en liefde vir hulle.  Natuurlik het hulle al dinge gedoen wat my teleurgestel het maar ek het en sal  hulle nooit as persoon veroordeel nie, maar wel die dade.  Ek veronderstel dit is onvoorwaardelike liefde.  Daar is soveel ouers wat verwag dat hulle kinders eers moet presteer of op 'n sekere manier moet lyk voor hulle aanvaarbaar is vir die ouer.  Kan jy jouself indink as ons eers perfek moes wees voor God ons lief sou hê?  Maar in Romeine 8 : 38-39 lees ons dat niks ons van God se liefde sal kan skei nie!  As ons as ouers ons kinders met so 'n diep liefde kan lief hê hoeveel te meer moet ons Abba Vader se liefde vir ons nie wees nie! 

Gebed  :  Abba Vader dankie dat U my onvoorwaardelik lief het en dat niks my van U liefde sal kan skei nie.  Amen.









Tuesday 23 April 2013

JY MAAK DIE KEUSE


Job 11:17  Jou lewe sal meer lig hê as die helder middag, jou donker sal lig word soos die môre.

Word jy ook soms in die oggend wakker en voel of jy net die kombers weer oor jou kop kan trek en vir die lewe kan sê gaan maar aan maar ek vat bietjie "time out"?  Ek is seker daar is baie van ons wat dikwels so voel maar die vraag is hoe hanteer jy hierdie situasie.  Gee jy jou net oor aan hierdie gevoel van "ek wil nie vandag nie" of maak jy die keuse om op te staan en die dag aan te vat.  Ek het gevind as jy so voel, staan op en gaan bring tyd in God se Woord deur of sit jou radio op 'n christelike radiostasie.  Radio Tygerberg doen wonders vir my, of sit 'n CD op en sing uit volle bors saam.  Ek kan nie sing nie, as ek begin sing hardloop die hond onder die bed in en die katte verdwyn buite toe maar as ek so voel begin ek saamsing.  Moet sê in die begin gaan dit maar sag en huiwerig want ek wil nie regtig nie maar hoe verder hoe harder en later loof en prys ek die Here uit volle bors.  Probeer dit, dit werk!  Daardie donker wolk lig en die sonstrale begin deurbreek in jou dag.

Gebed  :  Dankie Here dat U my elke dag help om die regte keuses te maak.  Amen.








HOE HANTEER JY TELEURSTELLING?


Psalm 130:5  Ek stel my vertroue in die Here, ek vertrou op Hom, ek wag op die vervulling van sy woord.


Die lewe gebeur nie altyd soos ons wil hê dit moet nie. Daar is baie teleurstellings soos 'n werksaansoek wat miskluk het, verbreekte verhoudings, bevorderings by die werk wat jou verbygaan, ens.  Die groot vraag is hoe hanteer jy hierdie teleurstellings.  Gaan sit jy in sak en as en sê vir jouself dat jy nooit hieroor sal kom nie.  Blameer jy jouself as hierdie dinge met jou gebeur?  Die Psamldigter sê dat ons ons vertroue in die Here moet stel.  Op Sy tyd sal Hy dit wat Hy in Sy woord vir ons belowe tot vervulling bring.  Ons Abba Vader is lief vir ons en wil net die beste vir ons hê en dit stem dikwels nie ooreen met wat ons dink die beste vir ons is nie.  Wees geduldig en wag in afwagting vir dit wat God in jou lewe gaan vermag!  Dit gaan beter wees as wat jy ooit gedink of gedroom het. 

Gebed  :  Dierbare Vader ek weet U beplan net die beste vir my.  Help my om geduldig te wag op die vervulling van U plan vir my lewe.



Monday 22 April 2013

HOE WIL GOD JOU GEBRUIK?

1 Korinthiërs 3:5  Hulle is maar net dienaars en elkeen doen die werk soos die Here dit vir hom gegee het.

So baie keer kyk ek na mense rondom my en dan wens ek ek kan my geloof uitleef soos hulle.  Hulle bedien duisende mense met hulle praatjies, reis die wêreld vol om te preek, weet presies wat om waar te sê, ens.  Ken jy ook sulke mense?  Maar dan lees ons in 1 Korinthiërs 3:5  dat die Here wil hê elkeen moet die werk doen soos die Here dit vir hom gegee het.  Nie almal van ons kan wêreld bekende predikers wees nie maar ons kan vandag God se opdrag uitvoer in die mense wat Hy oor ons pad stuur.  'n Drukkie hier, 'n bemoedigende woord daar is dalk al wat God wil hê jy vandag moet doen.  Kom ons wees vandag God se hande en voete in hierdie wêreld en ons sal ware dienaars van God wees.

Gebed :  Dierbare Vader maak asseblief vandag my geestes oë en ore oop vir die behoeftes van ander sodat ek U hande en voete in hierdie wêreld kan wees.



Thursday 18 April 2013

MAAK JOU BEGEERTES AAN GOD BEKEND

Filippense 4:6  Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.

My dogter het 'n sewe jarige Yorkie wat soos 'n kind in die huis is.  So paar weke terug het iets 'n gat in haar oog gesteek.  Daar was 'n yslik groot gat aan die regterkant van haar oogbal.  Ons het dit eers agtergekom toe haar ogie vreeslik begin dra het en het haar dadelik veearts toe gevat. Die bevinding was glad nie goed nie en omrede finansies 'n groot probleem is het ons basies die keuse gehad van of haar ogie verwyder of om haar te laat uitsit omrede sy volgens die veearts baie pyn moes verduur.  Dit was so 'n groot besluit en die veearts het ons huis toe gestuur met druppels vir die pyn om te gaan besluit wat ons moet doen. Wel ons het besluit om vir Tinkerbell se ogie te bid en vir die Here te vra vir volle genesing.  Vir 'n ruk was daar geen verandering nie en toe begin die gat kleiner word. Vandag is daar nie 'n teken van enige gat in die daardie ogie nie!  Ons het ons begeerte deur gebed en smeking aan die Groot Geneesheer bekend gemaak en Hy het genees! 

Die Here weet wat ons nodig het maar Hy wil hê dat ons dit aan Hom bekend moet maak en dit moet opvolg met danksegging.

Gebed  :  Dankie Here Jesus dat U altyd daar is vir ons. Amen.


Wednesday 17 April 2013

JOU SPIEELBEELD


Genesis 1:27  En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape.

Wat sien jy as jy in die spieël kyk.  Sien jy al jou tekortkominge raak?  Al die plooie, grys hare, ekstra kilogramme, krom neus, te groot mond, ens?  Die tydskrifte en televisie het hierdie onrealistiese beeld van die perfekte man/vrou geskep wat aantreklik, ryk, maer en suksesvol is.  As ons ons aan daardie beeld gaan meet gaan ons op vele gebiede vêr tekort skiet.  As dit jou maatstaf vir eie waarde gaan wees, gaan jy niks van jouself dink nie.  Maar in Genesis 1:27 lees ons dat God ons na sy beeld geskape het. Die perfekte beeld!!!  Die Skepper van hemel en aarde het jou geskep.  Is dit nie beter as enige beeld wat deur die media geskep is nie?  Moet jou nie aan wêreldse standaarde meet nie, meet jou aan hoe God jou sien.  Gaan staan nou weer voor die spieël en sien jou as God se skepping, volmaak.  Kom ons probeer vandag om die mense om ons nie aan hulle "spieëlbeeld" te oordeel nie maar om hulle te sien soos God hulle geskape het, na Sy beeld.

Gebed:  Dankie Here Jesus dat U my lief het net soos ek is.   


WAT SKUIL AGTER JOU MASKER?

Spreuke 14:13  'n Mens kan lag terwyl hy treur, die uiteinde van vreugde kan kommer wees.

Ons dra almal maskers.  Die gesig wat ons vir die wêreld voorhou wys alles is reg.  Dit sê dit gaan goed met my, my huwelik, my werk, my finansies, my verhouding met my kinders, ens.  Want behoede ons as iemand kan sien dat daar iets skort in my lewe!  Maar agter daardie maskers huil ons.  Dinge wat veronderstel is om vreugde in ons lewens te bring, bring kommer en hartseer.   Maar ons is nie alleen agter hierdie masker van ons nie.  Nee, ons Abba Vader is daar elke tree wat ons gee.  By Hom kan ek my masker afhaal en sê : "Here hier is ek met al my bekommernisse en vrese." En dan sê die psalmdigter in Psalm 23: 2 - 3  "Hy bring my by waters waar daar vrede is.  Hy gee my nuwe krag. By Hom kan ek weer vrede ervaar en nuwe krag kry. 

Gebed :  Dankie Jesus dat ek by U my masker kan afhaal en dat U vir my vrede en krag gee vir elke dag. Amen.



Tuesday 16 April 2013

DIE MAG VAN DIE TONG

Spreuke 18:21  Die tong het die mag oor dood en lewe; die wat lief is om te praat, sal die gevolg dra.

Ons is dikwels so haastig om negatief oor 'n situasie of oor iemand te praat.  Let bietjie op as jy in 'n geselskap is hoe negatief mense praat oor byvoorbeeld ons land ("hierdie land sal nooit regkom nie want .."),  die ekonomie (die ekonomie sal nooit weer optel nie want ....), verhoudings ("daar is geen manier dat daardie huwelik kan werk nie, egskeiding is al oplossing") en so kan ek aangaan en aangaan.  As daar oor iemand gepraat word is dit gewoonlik negatief (skinder).  Ons moet onthou met elke negatiewe woord wat ons praat, praat ons dood oor 'n persoon of oor 'n situasie.  Wat egter ontstellend is, is dat mense ook negatiewe dinge oor jou sê en jy weet nie eers daarvan nie. Hulle spreek woorde van dood oor ons!  

Maar in Matteus 16:19 lees ons dat ons gesag ontvang van God om hierdie woorde te bind.  Hy sê :"Ek sal aan jou die sleutels van die koninkryk van die hemel gee, en wat jy op die aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly".  Jy kan dus die krag uit hierdie negatiewe dinge wat gesê word haal.  Hoe? Ons gaan na God toe en ons sê vir Hom : "Vader, in die Naam van Jesus kom ek na U toe.  Ek neem hierdie woorde van dood en negatiwiteit gevange en maak hulle aan U gehoorsaam.  Ek bind dit en sluit dit toe want ek het die gesag van U ontvang om dit te doen.  Hierdie woorde van dood sal geen krag en mag meer hê nie."  

Kom ons probeer van vandag af om elke woord wat ons sê te oordink sodat ons net lewe sal praat en nie dood nie!

Gebed:  Here Jesus dankie dat U vir my die gesag gegee het om die vernietigende mag wat die tong het te kan bind.  Amen.






Monday 15 April 2013

WAAR Lê JOU VREUGDE

Psalm 37:4  Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer.

Ek het op hierdie stadium van my lewe baie dinge wat ek begeer.  Nie materiële dinge nie want die bybel sê ons moet nie ons skatte hier op aarde bymekaar maak nie.  Ek begeer egter 'n werk vir my dogter wat al so lank werkloos is, ek begeer werk vir my man wat sy kontrakwerk verloor het as gevolg van die ekoniemiese toestand van die land, en ek begeer 'n beter verhouding met my skoondogter wat die ma van my enigste twee kleinkinders is, om maar 'n paar te noem.  Die Psamldigter sê duidelik "vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer".  Duideliker kan dit nie gestel word nie.  Ons moet weer ons vreugde in die Here vind al is dit partydae baie moeilik as ons vaskyk in ons omstandighede.  Kom ons begin dankie sê vir wat ons het en ons sal weer ons vreugde in Hom vind!

Gebed  :  Jesus help my asseblief om weer my vreugde in U te vind.  Amen.



Thursday 11 April 2013

HOE ERVAAR JY JESUS?

Psalm 16:9, 11  Daarom is ek bly en juig ek en voel ek veilig.  U leer my hoe om te lewe.  By U is daar oorvloedige blydskap.  Uit U hand kom net wat mooi is.


Ek ervaar Jesus in elke sonsopkoms en elke sonsondergang van elke dag.  Ek ervaar Jesus in die liefde wat ek van my man en kinders kry.  Ek ervaar Jesus in elke familie byeenkoms wat ons het.  Ek ervaar Jesus as ek hartseer is en my hondjie kom lek my trane.  Ek ervaar Jesus as ek parkeerplek soek en 'n kar trek uit reg voor die winkel waar ek wil wees.  Ek ervaar Jesus in die nag as ek wakker word en nie verder kan slaap nie en met Hom begin gesels.  Ek ervaar Jesus as ek op 'n koue wintersaand snoesig warm aangetrek voor 'n kaggelvuur kan sit.  Ek ervaar Jesus elke aand as ek versadig in 'n warm sagte bed kan klim met 'n dak oor my kop.  Ek ervaar Jesus in elke glimlag wat ek onverwags van iemand kry.  Hierdie is net 'n paar voorbeelde van die tye wat ek Jesus ervaar.  Hoe ervaar jy Hom? 

Gebed  :  Dankie Jesus dat ek U kan ervaar in alles wat ek doen elke dag. Amen.






WAAR DIE HART VAN VOL IS

Matteus 12:34  Waar die hart van vol is, loop die mond van oor.

Het jy al 'n punt daarvan gemaak om op let waaroor die mense rondom jou die meeste praat.  Ek het die afgelope ruk geluister na die mense om my en al waaroor ek hulle hoor praat het was finansiële druk, wankelrige verhoudings met huweliksmaat en kinders, onbevredigende werksomstandighede of gespog oor eie prestasies en duur besittings.  In Matteus lees ons waar die hart van vol is loop die mond van oor.  Waarvan is ons harte deesdae vol as dit is waaroor ons praat?  Dalk moet ons ons harte begin vol maak van Jesus se liefde en genade.  So vol dat dit begin oorspoel in wat ons sê en so oorloop na ander toe.  Ek is seker as Jesus ons lewe vul al die negatiewe dinge en dinge van eie belang na die agtergrond sal skuif!

Gebed  :   Jesus vul asseblief vandag my lewe in so 'n mate dat getuienis van U liefde en genade by my mond sal oorloop.  Amen.



Tuesday 9 April 2013

KOM ONS GLIMLAG VANDAG

Spreuke 15:13  Blydskap laat 'n mens se gesig straal; smart maak 'n mens teneergedruk.

Het jy al opgemerk hoe mense se reaksies verskil as jy vir hulle glimlag.  Ek het al in die winkels rondgeloop en net vir mense geglimlag.  Eers het ek duidelike oogkontak gemaak, sodat die persoon weet, hierdie glimlag is net vir hom/haar en dan breed vir hulle geglimlag.  Die reaksies wat ek gekry het was :  (a) Die persoon glimlag onmiddellik net so breed terug; (b)  Daar is so effense glimlag en vernoude oë en jy kan eintlik hoor hoe die ratte in hulle kop draai om jou te probeer plaas.  Want volgens hulle moet jy hulle ken om vir hulle te glimlag en (c)  Die laaste groep kyk jou aan met 'n stroewe "moenie my pla nie en moet asseblief nie met my praat nie" gesig.  Hoe reageer jy as iemand vir jou glimlag?  Kom ons maak dit 'n keuse om as iemand volgende keer vir jou glimlag, glimlag jy net so breed terug!  

Gebed  :  Jesus laat die blykdskap wat ons in U het vandag deurbreek as 'n groot glimlag vir almal rondom ons.  Amen.


JESUS SE DONSKOMBERS

Jesaja 41:10  Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God.  Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou.

Soms is my kombers te klein.  As my voete toe is, is my ore en skouers oop en trek ek die kombers op, is my voete weer koud.  Maar trek ek my knieë op maak ek alles toe en kan ek dan rustig slaap.  Net so is my lewenskombers ook soms te klein.  As ek die een probleem uitsorteer het is die volgende een daar.  Maar as ek my knieë buig in gebed dan kan ek alles hanteer.  Die rede hiervoor is dat God dan Sy reuse groot donskombers van genade en liefde oor my gooi en my so dra en lei teen die daaglikse probleme.

As jou kombers te klein is, vra jy Hom om jou te kom toegooi met Sy donskombers?  Of probeer jy  maar om jouself teen die wêreld se probleme te beskerm met jou eie handgemaakte kombersie vol gate?  Kom vra volgende keer vir Jesus om Sy donskombers oor jou te gooi en gee elke deel van jou lewe, elke stukkie kommer, pyn, worsteling en spanning volkome oor aan Hom.  Sy genade is groot en wyd genoeg om op elke terrein van jou lewe meer as genoeg te wees.

Gebed  :  Dierbare Vader maak my asseblief vandag toe met U reuse donskombers van genade en liefde.  Amen 




Monday 8 April 2013

KAN JY VERGEWE EN VERGEET?

Markus 11:25 En wanneer julle staan om te bid, en julle het iets teen iemand, vergewe hom; dan sal julle Vader wat in die hemel is, julle ook julle oortredings vergewe.

Ek dink nie daar is iemand onder ons wat nie al een of ander tyd tenagekom is deur iemand nie.  Maar hoe ons dit hanteer wys wat in ons harte aangaan.  Dit is so maklik om vir iemand te sê ek vergewe jou maar daardie skurwe plekkie bly daar.  Het julle al gevoel hoe dit is as jou tand 'n growwe plekkie het en jou tong gaan aanmekaar soontoe.  Jou tong is naderhand stukkend maar as jy voel is dit maar weer daar op die growwe plekkie. 

 Dit is so as ons sê ons vergewe maar dit bly ons pla.  Ons gedagtes gaan aanmekaar na die persoon se woorde en/of  dade toe en speel dit oor en oor totdat jou gevoelens net so seer en rou is soos jou tong as dit aanmekaar oor daardie stukkend tand gly.  Onthou vergifnis begin in jou hart. Maak eers jou hart skoon van al die onkruid van selfbejammering en haat.  Dink aan al die kere wat Jesus jou al onvoorwaardelik vergewe het. Die Onse Vader gebed sê ons moet bid :  "Vergeef ons ons oortredinge soos ons ook die vergewe wat teen ons oortree."  Ons wil hê Jesus moet ons 100% vergewe nie waar nie, so ons moet dus ook 100% vergewe.   Dit is nie maklik nie maar met die hulp van die Here se genade sal ons dit regkry.  Dit wil nie sê ons sal dit vergeet nie maar as ons in aanraking kom met daardie persoon sal ons kan  optree vanuit die vergifnis in ons hart. 

Gebed : Jesus leer my asseblief hoe om werklik te vergewe en dankie vir U volkome vergifnis vir my sonde. Amen.