Tuesday 30 April 2013

VOLG SY VOORBEELD

Efesiërs 5:1  Omdat julle kinders van God is en Hy julle liefhet, moet julle sy voorbeeld volg.


As jy waarlik in Christus glo moet jy die voorbeeld wat Hy vir jou stel uitleef.  Dit beteken nie net dat jy elke Sondag kerk toe moet gaan nie, nee dit beteken dat ons elke dag so moet leef dat ander mense Jesus in ons sal sien. Soms is dit baie moeilik want ons is net menslik. As jy dus voor die versoeking swig om nie volgens God se woord te handel nie moet nie jouself veroordeel nie.  Omdat God weet dat ons net mens is verwag Hy nie dat ons oornag 'n spieëlbeeld van Hom moet word nie.  As jy jouself 'n Christen noem is die wêreld se oë ongelukkig heeltyd op jou om te sien waar jy struikel en val.  Moet jou egter nie aan hulle steur nie, wat belangrik is, is dat jy sal opstaan en elke dag tree vir tree nader beweeg aan dit wat God van jou verwag om te wees. 


GEBED  :  Abba Vader U sien al my foute en tog is U nog steeds lief vir my.  Help my asseblief om elke keer as ek struikel weer op te staan en nader aan U te beweeg.  Amen.





HOE BEGIN JY JOU DAG?

Matteus 6 : 33  ...beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.

Spandeer jy genoeg tyd saam met God?  Ek weet tyd is vir almal 'n faktor maar ek verseker jou hoe meer tyd jy saam met God deurbring hoe meer tyd gaan jy hê.  Ek vind dat wanneer ek tyd saam met my Abba Vader in die oggend deurbring is ek so gefokus op die dag wat voorlê dat ek beter kan beplan en alles kan inpas wat gedoen moet word.  Die dag wat ek oorslaan en my dinge eerste stel kan ek maar verseker wees van 'n chaotiese dag.  Begin jou dag reg, stel God eerste en wees verseker van 'n geseënde dag.

Gebed  :  Dankie Jesus dat U altyd daar is vir my.  Ek begeer om meer tyd in U teenwoordigheid deur te bring. Help my asseblief.  Amen.



Monday 29 April 2013

GEE JOU BEKOMMERNISSE OOR AAN HOM

Matteus 6 : 26  Kyk na die wilde voëls:  hulle saai nie en hulle oes nie en hulle maak nie in skure bymekaar nie;  julle hemelse Vader sorg vir hulle.  Is julle nie baie meer werd as hulle nie?

Hoeveel van ons verkwis tyd deur ons te bekommer oor die toekoms?  Ons is onseker oor ons werk, ons kinders se toekoms, of ons finansieel al ons verpligtinge sal kan nakom ens.  My broer het 'n wonderlike 10 minuut filosofie.  As mens 10 minute sonder suurstof is, is jy dood.  So volgens hom moet hy net die volgende 10 minute oorleef as dit verby is vat hy die volgende 10 minute want nie een van ons is seker of ons oor 10 minute nog hier gaan wees nie!  Voor ek gaan slaap in die aand sê ek vir Abba Vader dankie vir vandag se samesyn met my geliefdes, vandag se dak oor my kop, vandag se gesondheid, vandag se brood, dat ek klere gehad het om vandag te dra.  En dan vra ek Hom om asseblief vir more te voorsien en dit is asof 'n berg van my skouers lig as ek besef ek hoef nie meer daaroor te bekommer nie.   Soos  geskryf in Matteus 6 : 26  as my Abba Vader vir die voëls van die hemel sorg hoeveel te meer sal Hy nie vir my, Sy kind, sorg nie.  Gee jou bekommernisse oor aan Hom en geniet Sy liefde en genade elke dag.



GEBED  :  Dankie Abba Vader dat U in al my behoeftes voorsien.  Amen.   

Thursday 25 April 2013

DIE VOLMAAKTE SKEPPING

Genesis 1 : 31 Toe het God gekyk na alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed.  Dit het aand geword en dit het môre geword.  Dit was die sesde dag.

Ek word vanoggend wakker met die geluid van die see wat daar vêr sy branders uitstoot en terugtrek en die voëltjies wat vrolik kwetter in hulle nessie by my kamer venster en ek kom weereens onder die besef hoe groot en wonderlik God se skepping is.  Gaan loop bietjie in die natuur en kyk om jou rond, alles van die hoogste berg tot die kleinste blommetjie en insek is volmaak geskep.  Ons lewenswyse kan ons so maklik blind, doof en gevoelloos maak.  Daarom is dit so belangrik dat ons, ten spyte van die gewoel van 'n kunsmatige wêreld, tyd sal maak om stil te word en God se skepping weer opnuut te ervaar.  En ook weer opnuut sal besef dat ek en jy deel is van hierdie volmaakte skepping!  Ons is waarlik geseënd.

Gebed  :  Dankie Abba Vader dat U ons so lief het dat U ons deel gemaak het van hierdie volmaakte skepping.  Amen. 


ONVOORWAARDELIKE LIEFDE

Romeine 8 : 38-39 Hiervan is ek oortuig:  geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.


Ek het gister die voorreg gehad om die dag saam met my kinders en kleinkinders deur te bring!  Ek het net weereens besef dat daar min dinge is wat naby die liefde wat 'n ma vir haar kinders het, kom.  My hart het eintlik gepyn van trots en liefde vir hulle.  Natuurlik het hulle al dinge gedoen wat my teleurgestel het maar ek het en sal  hulle nooit as persoon veroordeel nie, maar wel die dade.  Ek veronderstel dit is onvoorwaardelike liefde.  Daar is soveel ouers wat verwag dat hulle kinders eers moet presteer of op 'n sekere manier moet lyk voor hulle aanvaarbaar is vir die ouer.  Kan jy jouself indink as ons eers perfek moes wees voor God ons lief sou hê?  Maar in Romeine 8 : 38-39 lees ons dat niks ons van God se liefde sal kan skei nie!  As ons as ouers ons kinders met so 'n diep liefde kan lief hê hoeveel te meer moet ons Abba Vader se liefde vir ons nie wees nie! 

Gebed  :  Abba Vader dankie dat U my onvoorwaardelik lief het en dat niks my van U liefde sal kan skei nie.  Amen.









Tuesday 23 April 2013

JY MAAK DIE KEUSE


Job 11:17  Jou lewe sal meer lig hê as die helder middag, jou donker sal lig word soos die môre.

Word jy ook soms in die oggend wakker en voel of jy net die kombers weer oor jou kop kan trek en vir die lewe kan sê gaan maar aan maar ek vat bietjie "time out"?  Ek is seker daar is baie van ons wat dikwels so voel maar die vraag is hoe hanteer jy hierdie situasie.  Gee jy jou net oor aan hierdie gevoel van "ek wil nie vandag nie" of maak jy die keuse om op te staan en die dag aan te vat.  Ek het gevind as jy so voel, staan op en gaan bring tyd in God se Woord deur of sit jou radio op 'n christelike radiostasie.  Radio Tygerberg doen wonders vir my, of sit 'n CD op en sing uit volle bors saam.  Ek kan nie sing nie, as ek begin sing hardloop die hond onder die bed in en die katte verdwyn buite toe maar as ek so voel begin ek saamsing.  Moet sê in die begin gaan dit maar sag en huiwerig want ek wil nie regtig nie maar hoe verder hoe harder en later loof en prys ek die Here uit volle bors.  Probeer dit, dit werk!  Daardie donker wolk lig en die sonstrale begin deurbreek in jou dag.

Gebed  :  Dankie Here dat U my elke dag help om die regte keuses te maak.  Amen.








HOE HANTEER JY TELEURSTELLING?


Psalm 130:5  Ek stel my vertroue in die Here, ek vertrou op Hom, ek wag op die vervulling van sy woord.


Die lewe gebeur nie altyd soos ons wil hê dit moet nie. Daar is baie teleurstellings soos 'n werksaansoek wat miskluk het, verbreekte verhoudings, bevorderings by die werk wat jou verbygaan, ens.  Die groot vraag is hoe hanteer jy hierdie teleurstellings.  Gaan sit jy in sak en as en sê vir jouself dat jy nooit hieroor sal kom nie.  Blameer jy jouself as hierdie dinge met jou gebeur?  Die Psamldigter sê dat ons ons vertroue in die Here moet stel.  Op Sy tyd sal Hy dit wat Hy in Sy woord vir ons belowe tot vervulling bring.  Ons Abba Vader is lief vir ons en wil net die beste vir ons hê en dit stem dikwels nie ooreen met wat ons dink die beste vir ons is nie.  Wees geduldig en wag in afwagting vir dit wat God in jou lewe gaan vermag!  Dit gaan beter wees as wat jy ooit gedink of gedroom het. 

Gebed  :  Dierbare Vader ek weet U beplan net die beste vir my.  Help my om geduldig te wag op die vervulling van U plan vir my lewe.



Monday 22 April 2013

HOE WIL GOD JOU GEBRUIK?

1 Korinthiërs 3:5  Hulle is maar net dienaars en elkeen doen die werk soos die Here dit vir hom gegee het.

So baie keer kyk ek na mense rondom my en dan wens ek ek kan my geloof uitleef soos hulle.  Hulle bedien duisende mense met hulle praatjies, reis die wêreld vol om te preek, weet presies wat om waar te sê, ens.  Ken jy ook sulke mense?  Maar dan lees ons in 1 Korinthiërs 3:5  dat die Here wil hê elkeen moet die werk doen soos die Here dit vir hom gegee het.  Nie almal van ons kan wêreld bekende predikers wees nie maar ons kan vandag God se opdrag uitvoer in die mense wat Hy oor ons pad stuur.  'n Drukkie hier, 'n bemoedigende woord daar is dalk al wat God wil hê jy vandag moet doen.  Kom ons wees vandag God se hande en voete in hierdie wêreld en ons sal ware dienaars van God wees.

Gebed :  Dierbare Vader maak asseblief vandag my geestes oë en ore oop vir die behoeftes van ander sodat ek U hande en voete in hierdie wêreld kan wees.



Thursday 18 April 2013

MAAK JOU BEGEERTES AAN GOD BEKEND

Filippense 4:6  Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.

My dogter het 'n sewe jarige Yorkie wat soos 'n kind in die huis is.  So paar weke terug het iets 'n gat in haar oog gesteek.  Daar was 'n yslik groot gat aan die regterkant van haar oogbal.  Ons het dit eers agtergekom toe haar ogie vreeslik begin dra het en het haar dadelik veearts toe gevat. Die bevinding was glad nie goed nie en omrede finansies 'n groot probleem is het ons basies die keuse gehad van of haar ogie verwyder of om haar te laat uitsit omrede sy volgens die veearts baie pyn moes verduur.  Dit was so 'n groot besluit en die veearts het ons huis toe gestuur met druppels vir die pyn om te gaan besluit wat ons moet doen. Wel ons het besluit om vir Tinkerbell se ogie te bid en vir die Here te vra vir volle genesing.  Vir 'n ruk was daar geen verandering nie en toe begin die gat kleiner word. Vandag is daar nie 'n teken van enige gat in die daardie ogie nie!  Ons het ons begeerte deur gebed en smeking aan die Groot Geneesheer bekend gemaak en Hy het genees! 

Die Here weet wat ons nodig het maar Hy wil hê dat ons dit aan Hom bekend moet maak en dit moet opvolg met danksegging.

Gebed  :  Dankie Here Jesus dat U altyd daar is vir ons. Amen.


Wednesday 17 April 2013

JOU SPIEELBEELD


Genesis 1:27  En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape.

Wat sien jy as jy in die spieël kyk.  Sien jy al jou tekortkominge raak?  Al die plooie, grys hare, ekstra kilogramme, krom neus, te groot mond, ens?  Die tydskrifte en televisie het hierdie onrealistiese beeld van die perfekte man/vrou geskep wat aantreklik, ryk, maer en suksesvol is.  As ons ons aan daardie beeld gaan meet gaan ons op vele gebiede vêr tekort skiet.  As dit jou maatstaf vir eie waarde gaan wees, gaan jy niks van jouself dink nie.  Maar in Genesis 1:27 lees ons dat God ons na sy beeld geskape het. Die perfekte beeld!!!  Die Skepper van hemel en aarde het jou geskep.  Is dit nie beter as enige beeld wat deur die media geskep is nie?  Moet jou nie aan wêreldse standaarde meet nie, meet jou aan hoe God jou sien.  Gaan staan nou weer voor die spieël en sien jou as God se skepping, volmaak.  Kom ons probeer vandag om die mense om ons nie aan hulle "spieëlbeeld" te oordeel nie maar om hulle te sien soos God hulle geskape het, na Sy beeld.

Gebed:  Dankie Here Jesus dat U my lief het net soos ek is.   


WAT SKUIL AGTER JOU MASKER?

Spreuke 14:13  'n Mens kan lag terwyl hy treur, die uiteinde van vreugde kan kommer wees.

Ons dra almal maskers.  Die gesig wat ons vir die wêreld voorhou wys alles is reg.  Dit sê dit gaan goed met my, my huwelik, my werk, my finansies, my verhouding met my kinders, ens.  Want behoede ons as iemand kan sien dat daar iets skort in my lewe!  Maar agter daardie maskers huil ons.  Dinge wat veronderstel is om vreugde in ons lewens te bring, bring kommer en hartseer.   Maar ons is nie alleen agter hierdie masker van ons nie.  Nee, ons Abba Vader is daar elke tree wat ons gee.  By Hom kan ek my masker afhaal en sê : "Here hier is ek met al my bekommernisse en vrese." En dan sê die psalmdigter in Psalm 23: 2 - 3  "Hy bring my by waters waar daar vrede is.  Hy gee my nuwe krag. By Hom kan ek weer vrede ervaar en nuwe krag kry. 

Gebed :  Dankie Jesus dat ek by U my masker kan afhaal en dat U vir my vrede en krag gee vir elke dag. Amen.



Tuesday 16 April 2013

DIE MAG VAN DIE TONG

Spreuke 18:21  Die tong het die mag oor dood en lewe; die wat lief is om te praat, sal die gevolg dra.

Ons is dikwels so haastig om negatief oor 'n situasie of oor iemand te praat.  Let bietjie op as jy in 'n geselskap is hoe negatief mense praat oor byvoorbeeld ons land ("hierdie land sal nooit regkom nie want .."),  die ekonomie (die ekonomie sal nooit weer optel nie want ....), verhoudings ("daar is geen manier dat daardie huwelik kan werk nie, egskeiding is al oplossing") en so kan ek aangaan en aangaan.  As daar oor iemand gepraat word is dit gewoonlik negatief (skinder).  Ons moet onthou met elke negatiewe woord wat ons praat, praat ons dood oor 'n persoon of oor 'n situasie.  Wat egter ontstellend is, is dat mense ook negatiewe dinge oor jou sê en jy weet nie eers daarvan nie. Hulle spreek woorde van dood oor ons!  

Maar in Matteus 16:19 lees ons dat ons gesag ontvang van God om hierdie woorde te bind.  Hy sê :"Ek sal aan jou die sleutels van die koninkryk van die hemel gee, en wat jy op die aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly".  Jy kan dus die krag uit hierdie negatiewe dinge wat gesê word haal.  Hoe? Ons gaan na God toe en ons sê vir Hom : "Vader, in die Naam van Jesus kom ek na U toe.  Ek neem hierdie woorde van dood en negatiwiteit gevange en maak hulle aan U gehoorsaam.  Ek bind dit en sluit dit toe want ek het die gesag van U ontvang om dit te doen.  Hierdie woorde van dood sal geen krag en mag meer hê nie."  

Kom ons probeer van vandag af om elke woord wat ons sê te oordink sodat ons net lewe sal praat en nie dood nie!

Gebed:  Here Jesus dankie dat U vir my die gesag gegee het om die vernietigende mag wat die tong het te kan bind.  Amen.






Monday 15 April 2013

WAAR Lê JOU VREUGDE

Psalm 37:4  Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer.

Ek het op hierdie stadium van my lewe baie dinge wat ek begeer.  Nie materiële dinge nie want die bybel sê ons moet nie ons skatte hier op aarde bymekaar maak nie.  Ek begeer egter 'n werk vir my dogter wat al so lank werkloos is, ek begeer werk vir my man wat sy kontrakwerk verloor het as gevolg van die ekoniemiese toestand van die land, en ek begeer 'n beter verhouding met my skoondogter wat die ma van my enigste twee kleinkinders is, om maar 'n paar te noem.  Die Psamldigter sê duidelik "vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer".  Duideliker kan dit nie gestel word nie.  Ons moet weer ons vreugde in die Here vind al is dit partydae baie moeilik as ons vaskyk in ons omstandighede.  Kom ons begin dankie sê vir wat ons het en ons sal weer ons vreugde in Hom vind!

Gebed  :  Jesus help my asseblief om weer my vreugde in U te vind.  Amen.



Thursday 11 April 2013

HOE ERVAAR JY JESUS?

Psalm 16:9, 11  Daarom is ek bly en juig ek en voel ek veilig.  U leer my hoe om te lewe.  By U is daar oorvloedige blydskap.  Uit U hand kom net wat mooi is.


Ek ervaar Jesus in elke sonsopkoms en elke sonsondergang van elke dag.  Ek ervaar Jesus in die liefde wat ek van my man en kinders kry.  Ek ervaar Jesus in elke familie byeenkoms wat ons het.  Ek ervaar Jesus as ek hartseer is en my hondjie kom lek my trane.  Ek ervaar Jesus as ek parkeerplek soek en 'n kar trek uit reg voor die winkel waar ek wil wees.  Ek ervaar Jesus in die nag as ek wakker word en nie verder kan slaap nie en met Hom begin gesels.  Ek ervaar Jesus as ek op 'n koue wintersaand snoesig warm aangetrek voor 'n kaggelvuur kan sit.  Ek ervaar Jesus elke aand as ek versadig in 'n warm sagte bed kan klim met 'n dak oor my kop.  Ek ervaar Jesus in elke glimlag wat ek onverwags van iemand kry.  Hierdie is net 'n paar voorbeelde van die tye wat ek Jesus ervaar.  Hoe ervaar jy Hom? 

Gebed  :  Dankie Jesus dat ek U kan ervaar in alles wat ek doen elke dag. Amen.






WAAR DIE HART VAN VOL IS

Matteus 12:34  Waar die hart van vol is, loop die mond van oor.

Het jy al 'n punt daarvan gemaak om op let waaroor die mense rondom jou die meeste praat.  Ek het die afgelope ruk geluister na die mense om my en al waaroor ek hulle hoor praat het was finansiële druk, wankelrige verhoudings met huweliksmaat en kinders, onbevredigende werksomstandighede of gespog oor eie prestasies en duur besittings.  In Matteus lees ons waar die hart van vol is loop die mond van oor.  Waarvan is ons harte deesdae vol as dit is waaroor ons praat?  Dalk moet ons ons harte begin vol maak van Jesus se liefde en genade.  So vol dat dit begin oorspoel in wat ons sê en so oorloop na ander toe.  Ek is seker as Jesus ons lewe vul al die negatiewe dinge en dinge van eie belang na die agtergrond sal skuif!

Gebed  :   Jesus vul asseblief vandag my lewe in so 'n mate dat getuienis van U liefde en genade by my mond sal oorloop.  Amen.



Tuesday 9 April 2013

KOM ONS GLIMLAG VANDAG

Spreuke 15:13  Blydskap laat 'n mens se gesig straal; smart maak 'n mens teneergedruk.

Het jy al opgemerk hoe mense se reaksies verskil as jy vir hulle glimlag.  Ek het al in die winkels rondgeloop en net vir mense geglimlag.  Eers het ek duidelike oogkontak gemaak, sodat die persoon weet, hierdie glimlag is net vir hom/haar en dan breed vir hulle geglimlag.  Die reaksies wat ek gekry het was :  (a) Die persoon glimlag onmiddellik net so breed terug; (b)  Daar is so effense glimlag en vernoude oë en jy kan eintlik hoor hoe die ratte in hulle kop draai om jou te probeer plaas.  Want volgens hulle moet jy hulle ken om vir hulle te glimlag en (c)  Die laaste groep kyk jou aan met 'n stroewe "moenie my pla nie en moet asseblief nie met my praat nie" gesig.  Hoe reageer jy as iemand vir jou glimlag?  Kom ons maak dit 'n keuse om as iemand volgende keer vir jou glimlag, glimlag jy net so breed terug!  

Gebed  :  Jesus laat die blykdskap wat ons in U het vandag deurbreek as 'n groot glimlag vir almal rondom ons.  Amen.


JESUS SE DONSKOMBERS

Jesaja 41:10  Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God.  Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou.

Soms is my kombers te klein.  As my voete toe is, is my ore en skouers oop en trek ek die kombers op, is my voete weer koud.  Maar trek ek my knieë op maak ek alles toe en kan ek dan rustig slaap.  Net so is my lewenskombers ook soms te klein.  As ek die een probleem uitsorteer het is die volgende een daar.  Maar as ek my knieë buig in gebed dan kan ek alles hanteer.  Die rede hiervoor is dat God dan Sy reuse groot donskombers van genade en liefde oor my gooi en my so dra en lei teen die daaglikse probleme.

As jou kombers te klein is, vra jy Hom om jou te kom toegooi met Sy donskombers?  Of probeer jy  maar om jouself teen die wêreld se probleme te beskerm met jou eie handgemaakte kombersie vol gate?  Kom vra volgende keer vir Jesus om Sy donskombers oor jou te gooi en gee elke deel van jou lewe, elke stukkie kommer, pyn, worsteling en spanning volkome oor aan Hom.  Sy genade is groot en wyd genoeg om op elke terrein van jou lewe meer as genoeg te wees.

Gebed  :  Dierbare Vader maak my asseblief vandag toe met U reuse donskombers van genade en liefde.  Amen 




Monday 8 April 2013

KAN JY VERGEWE EN VERGEET?

Markus 11:25 En wanneer julle staan om te bid, en julle het iets teen iemand, vergewe hom; dan sal julle Vader wat in die hemel is, julle ook julle oortredings vergewe.

Ek dink nie daar is iemand onder ons wat nie al een of ander tyd tenagekom is deur iemand nie.  Maar hoe ons dit hanteer wys wat in ons harte aangaan.  Dit is so maklik om vir iemand te sê ek vergewe jou maar daardie skurwe plekkie bly daar.  Het julle al gevoel hoe dit is as jou tand 'n growwe plekkie het en jou tong gaan aanmekaar soontoe.  Jou tong is naderhand stukkend maar as jy voel is dit maar weer daar op die growwe plekkie. 

 Dit is so as ons sê ons vergewe maar dit bly ons pla.  Ons gedagtes gaan aanmekaar na die persoon se woorde en/of  dade toe en speel dit oor en oor totdat jou gevoelens net so seer en rou is soos jou tong as dit aanmekaar oor daardie stukkend tand gly.  Onthou vergifnis begin in jou hart. Maak eers jou hart skoon van al die onkruid van selfbejammering en haat.  Dink aan al die kere wat Jesus jou al onvoorwaardelik vergewe het. Die Onse Vader gebed sê ons moet bid :  "Vergeef ons ons oortredinge soos ons ook die vergewe wat teen ons oortree."  Ons wil hê Jesus moet ons 100% vergewe nie waar nie, so ons moet dus ook 100% vergewe.   Dit is nie maklik nie maar met die hulp van die Here se genade sal ons dit regkry.  Dit wil nie sê ons sal dit vergeet nie maar as ons in aanraking kom met daardie persoon sal ons kan  optree vanuit die vergifnis in ons hart. 

Gebed : Jesus leer my asseblief hoe om werklik te vergewe en dankie vir U volkome vergifnis vir my sonde. Amen.


Friday 5 April 2013

WEES LIEF VIR JOUSELF

Psalm 139:14 Ek wil U loof, want U het my op 'n wonderbaarlike wyse geskep.  Wat u gedoen het, vervul my met verwondering.

Hoe voel jy oor jouself. Twyfel jy aan jou eie vermoëns, kraak jy jouself gedurig af, dink jy jy is nie mooi, slim of maer genoeg nie. Dalk voel jy jy is nie 'n goeie ma vir jou kind of vrou vir jou man nie.  Ongelukkig leef ons in 'n samelewing wat 'n baie onrealistiese beeld van die perfekte vrou/man voorhou.  Maar al is ons nie perfek in die wêreld se oë nie is ons perfekte skeppinge van ons Hemelse Vader.  Soos die Psalmdiger sê ons is op 'n wonderbaarlike wyse deur God geskep en Hy is vir ons lief net soos ons is!  Ons hoef nie eers maerder, ryker, beter of slimmer te word nie.  Net soos jy nou is, is Hy so ontsaglik lief vir jou!  Wat 'n wonderlike gedagte moet hierdie feit nie vir ons wees nie!

Gebed:  Dankie Here Jesus dat U my op so 'n wonderbaarlike wyse geskep het en dat U vir my liefhet net soos ek is. Amen.



Thursday 4 April 2013

LEEF MET VREUGDE

Prediker 3:12  Ek het tot die insig gekom dat daar vir 'n mens niks beters is nie as om vrolik te wees en die goeie van die lewe te geniet.

Die hele wêreld is op die oomblik gedompel in 'n ekonomiese en finansiële krisis en dit raak die meeste van ons direk.  Die maand het te veel dae vir ons inkomste, die prys van petrol, voedsel en klere gaan net op.  Verhoudings ly skipbreuk as gevolg van spanning in die verhouding en so kan ek net aangaan en aangaan.

Maar Prediker sê dat daar vir ons niks beters is nie as om vrolik te wees en die goeie van die lewe te geniet. Dit kan ons net doen as ons Jesus in ons lewe het.  Die wete dat Hy met ons is elke oomblik van die dag, ongeag ons omstandighede, maak van enige probleem 'n oorkombare berg.  Harol W. Melchert skryf: Leef jou lewe elke dag soos jy 'n berg sal klim.  'n Terloopse blik na die kruin hou die doel voor oë, maar van elke pragtige uitkykpunt kan hope pragtige tonele gesien word.  Klim stadig, onwankelbaar, geniet elke verbygaande oomblik, en die uitsig van die kruin sal as klimaks dien vir die reis. 

Gebed :  Jesus help my om elke dag vrolik te wees en die goeie van die lewe, wat U aan ons geskenk het, te geniet.  Amen.



Tuesday 2 April 2013

HOE GEE JY?

Markus 12 : 42 - 44  Daar het toe 'n arm weduwee gekom en twee muntstukkies ingegooi.  Dit was baie min werd.  Hy het sy dissipels nader geroep en vir hulle gesê: "Dit verseker Ek julle:  Hierdie arm weduwee het meer ingegooi as al die ander mense wat iets in die offergawekis gegooi het.  Hulle het almal uit hulle oorvloed iets ingegooi, maar sy het in haar gebrek alles ingegooi wat sy gehad het, alles waarvan sy moet lewe.

Ek en my man het so ruk terug een aand besluit om ons te bederf met 'n wegneem burger by 'n bekende hoederplek.  Terwyl ons daar in die deurry staan en wag sien ons 'n ou boemelaar oorkant op die sypaadjie sit en ons besluit toe om vir hom die promosie aanbod van twee klein burgertjies en 'n koeldrank te koop.  Toe ons klaar is ry ons tot by hom en gee vir hom die kos en hy was opreg dankbaar daarvoor.  Terwyl ons wegry kyk ek agtertoe en sien dat hy oorloop na die anderkant van die pad, waar daar ook 'n boemelaar sit, wat ons nie gesien het nie, en vir hom die een burger aanbied.  Ek ek voel in my gees hoe die Here vir my sê, "Dit is hoe jy moet gee".  Hierdie man, wat wie weet wanneer laas geëet het, en nie weet wanneer hy weer gaan eet nie, deel die enigste kos wat hy het.   

Hoe gee jy?  Gee jy uit jou oorvloed of gee jy van dit wat regtig vir jou kosbaar is.  Dit is soms so maklik om geld te gee as jy oorvloed het maar hoe moeilik is dit om van ons tyd te gee, om van onsself te gee.  'n Paar minute by iemand in 'n hospitaalbed, 'n ou mensie wat vergeet is in die ouetehuis, 'n drukkie vir iemand wat dit so nodig het, dit is partykeer soveel meer werd as al die geld in die wêreld.

Gebed :  Jesus help my vandag om my geestes oë oop te maak om te sien waar ek kan gee, al is dit my laaste muntstukkie soos die weduwee van ouds.  Want Here ek weet, daar waar ek gee, voorsien U weer in oorvloed.  Amen. 






MAAK HUIS SKOON

1 Joh 1:19  Maar as ons ons sondes bely - Hy is getrou en regverdig.  Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.

Ek het vanoggend opgestaan met die gedagte dat vandag "spring clean" dag is.  Ek het elke vertrek van hoek tot kant gevat en skoongemaak.  Gaatjies en hoekies wat dikwels maar oorgekyk word want dit is so moeilik om te bereik is vandag getakel en skoongemaak.  Toe ek klaar was, was ek poegaai maar die gevoel van tevredenheid was beloning genoeg.

So moet ons ook van tyd tot tyd ons lewens skoonmaak.  Al daardie dingetjies wat maar oorgekyk word want dit is so ongemaklik om daar skoon te maak moet getakel word.  Lê al daardie minder goeie dinge voor Jesus se voete en vra Hom om jou te help om jou lewe skoon te maak en om jou al hierdie sondes te vergewe.  Ek hoef nie vir jou te sê in watter hoekies en gaatjies jy moet gaan soek nie, jy sal weet.  Kom ons maak vandag ons geestelik huis skoon en voel hoe God se genade oor jou skoon was.

Gebed  :  Dankie Jesus dat ek U kan vra om te help met my huis se skoonmaak en dat ek die dinge wat nie daar moet wees nie voor U kan neerlê.   Dankie Jesus dat U my onvoorwaardelik sal vergewe as ek U vra.  Amen.